Mathmoms lê grondslag vir wiskunde

Die Stellenberg Ondersteuningsentrum wat berading en ander dienste d.m.v. hulle multiprofessionele span bied, het dit goedgedink om vanjaar die MathsMoms-projek as gemeenskapsprojek aan te neem.

Sonja Cilliers, vrou van ds. Andries Cilliers, werksaam by NG kerk Drieankerbaai, bestuur die projek.  In die projek word afgetrede wiskunde-onderwysers, asook werklose vroue ingespan om leerders in graad 2 en 3 by skole in minderbevoorregte woongebiede met wiskunde te help.

Skole in areas soos Elsiesrivier, Ravensmead, Bishop Lavis en die  Breederiviervallei word by die projek betrek.  Geleentheid word vir kinders by die verskillende skole geskep waartydens hulle wiskunde kan leer en hul selfvertroue in die vak kan ontwikkel.

Die aanbieders van die program maak van gewone huishoudelike artikels gebruik om wiskunde op ’n praktiese wyse aan kinders uit te beeld.  Plastiekdoppies en -lepels, legkaarte, dobbelsteentjies, kleinerige plastiekspeelgoed, telrame, knope, krale, ens. word bymekaargemaak om somme speel-speel te demonstreer.  Indien jy artikels vir die projek wil skenk, kontak gerus die SOS-kantoor by sos@stellenberg.co.za/021 976 8029 (tussen 09:00 en 12:00).

Besoek gerus MathMoms se webwerf by www.mathmoms.co.za vir volledige besonderhede rakende die projek.