Deur: Di. Marius Breytenbach en René Potgieter
Die kruis dra swaar aan al God se genade. Voel aan die hout en die doringkroon. Staan stil en luister. Dalk hoor jy Hom sê: ‘Ek het dit net vir jou gedoen.’ Max Lucado
Lydenstyd is dié seisoen in die kerkjaar wanneer gelowiges op ’n innerlike en geestelike reis gaan. ’n Reis waartydens ’n mens doelbewus tyd saam met God én op jou eie deurbring. Dan dink ’n mens na oor Jesus wat Homself as ’n offer vir die wêreld gegee het en fokus opnuut op die ware betekenis van Jesus se opstanding.
Die ou kerkvaders het in die tweede eeu met die gebruik begin om reeds ’n paar dae voor die aanbreek van Paasfees – waartydens ons vandag steeds Jesus se sterwe en opstanding herdenk – die gebeure te begin vier. Nadat ’n groot aantal geestelike leiers in 325 n.C. in die dorpie Nicea in Klein-Asië bymekaargekom het om die eerste gemeenskaplike Christelike Belydenis saam te stel, is besluit om gelowiges aan te moedig om gereeld in die veertig dae voor Paasfees te vas. Sodoende sou die betekenis van Jesus se lyding, sterwe en opstanding nie ongemerk by hulle verbygaan nie.
Die viering van Lydenstyd is dus ’n ou Christelike gebruik waartydens Christene bewustelik en prakties saam met ander dié besondere tyd in ons kerkjaar vier. Dit bring ons diep onder die indruk hoe Christus se sterwe en opstanding ons persoonlik aanraak en verander. Daarom nooi ons lidmate uit om hierdie Lydenstyd sigbaar en prakties te vier deur by die volgende in te skakel:
- Weeklikse eredienste dien as aanloop en opbou tot die Groot-Lydensweek met Goeie Vrydag en Paassondag daarna.
- In Stellenberg het die gebruik ontstaan dat gesinne tydens die Lydenstyd ’n rooi kruis op hul voordeur of erfomheining plaas, as getuienis dat hierdie tyd vir hulle van besondere waarde is. Maak ’n kruis uit afvalhout, of gee ’n ou kruis weer ’n lagie rooi verf.
- Die gebruik om te vas kan op verskillende maniere toegepas word en die bedoeling daarmee is dat jy jouself van iets ontneem sodat dit as ’n herinnering aan Jesus se lyding en sterwe sal dien. Oorweeg om jou tydens die Lydenstyd van koffie,tee, of ’n kossoort te weerhou, of vind enige iets anders waarmee jy jou alledaagse roetine kan verbreek om sodoende die betekenis van Lydenstyd opnuut te kan oordink en ervaar.
- Ons beoog om voor die aanbreek van die Groot-Lydensweek ’n spesiale lydenstydpakkie vir ons senior lidmate saam te stel waarin daar onder andere ’n lydenstydhandleiding met oordenkings en skrifgedeeltes sal wees wat vir Bybelstudie en bepeinsing gebruik kan word.
- ‘n Handleiding met oordenkings en gepaste skrifgedeeltes gepas vir die Lydenstyd sal ook op die gemeente se webwerf beskikbaar wees. Laai dit gerus daar af, of gaan haal ’n harde kopie by die kerkkantoor af.
Mag 2021 se Lydenstyd vir jou tot groot seën wees en mag jy te midde van ’n wêreld wat skielik handomkeer verander het, nuwe betekenis vir die jaar vind.