Stellenbergers is werklik bevoorreg om Sondag na Sondag die oggenddiens se voorsang onder die baie bekwame leiding van Louis van Loggerenberg mee te maak. Louis is reeds die afgelope 18 jaar die algemene musiekleier van Stellenberg, maar daarmee saam is hy ook die vakhoof vir musiek by Laerskool Parow-Noord en het hy ook onlangs ’n meestersgraad onder die wakende oog van die Universiteit van Wes-Londen verwerf.
“My skripsie het gehandel oor my lewenslange bydrae tot en die ontwikkeling van kerkmusiek, asook musiekopvoeding op nasionale vlak oor ’n tydperk van 40 jaar,” vertel Louis. “Ek het die graad in Kuala Lumpur, Maleisië, ontvang. Suid-Afrika word onder die Asië-streek van die Universiteit van Wes-Londen ingedeel en daarom is die graad in Asië aan my toegeken.”
Louis kan beskryf word as die spreekwoordelike lewenslange student omdat hy gereeld kursusse in sy veld deurloop. Op die vraag wat hom motiveer om voortdurend aan die studeer te bly, antwoord hy dat kennis binne 18 maande verouderd is. “Die onderwys- en die kerkmusiek- wêreld verander voortdurend. Ek dink nie ek sou meer ’n sinvolle bydrae kon maak met slegs my aanvanklike kwalifikasie wat ek in 1983 behaal het nie. Dié opleiding stel my in staat om gemaklik tussen tradisionele en kontemporêre musiek in eredienste en ook op ander gebiede, te beweeg.”
Louis vertel verder dat die besoek aan Maleisië op sigself ook ’n belewenis was. Die stad is silwerskoon met werklik nie ’n enkele papier wat iewers rondlê nie. Verder is hulle ten volle ingerig om die hitte so hanteerbaar moontlik te maak – selfs die oorhoofse voetgangersbrûe is lugverkoel. Oral waar jy stap, voel jy ook veilig – selfs by baie besige markte.
Van Stellenberg se kant kan ons net die hoed lig en vir Louis sê baie geluk met die verwerwing van ’n meestersgraad en daarmee saam baie dankie vir jare se toewyding aan die gemeente en kerkmusiek in die algemeen. Ons hoop om as gemeente nog vir baie jare met sy kennis en vaardighede geseën te word.