Deur: Ds. Marius Breytenbach
Ons bevind ons nou, in die laaste paar maande van 2020, in ’n tyd van verandering, of oorgang. Dié jaar het skielike en radikale veranderinge in mense se lewens en in ons omgewing teweeg gebring. Die vraag ontstaan nou – Hoe lei die Here ons in sulke tye van oorgang en hoe oorkom ons die uitdagings van hierdie tyd?
In Oktober- en Novembermaand gaan ons tydens eredienste fokus op figure in die Bybel wat in oorgangstye geleef het en ons gaan stilstaan by die wyses waarop die Here hulle gehelp het om opnuut sin in hulle veranderde omstandighede te vind.
Ons gebruik in hierdie tyd ’n kers as simbool van God se lig wat sin aan ons gee in tye van onsekerheid. Die lig herinner ons aan die Heilige Gees wat ons in oorgangstye leer, troos, genees en inspireer om nuwe moontlikhede te verken. In samehang met die preekreeks skenk ons dan ook met die oog op die tiendemaandinsameling, aan elke gesin ’n wit kers (Lees meer hieroor in die artikel oor die tiendemaandinsameling).
Ons nooi almal uit om in hierdie tyd by ons eredienste in te skakel en saam met ons die lewens van die relevante Bybelkarakters te bestudeer. Ons gaan die volgende bekende Bybelkarakters onder die loep neem:
- Jakob – ’n Gebroke verlede
- Abraham – Die uitsig van God se beloftes
- Job – Die realiteit van onsekerheid
- Jona – Die aanbreek van onverwagte uitkomste
- Paulus – ’n Nuwe roeping
- Die dissipels – Om Jesus in die tyd te volg
- Maria Magdalena – Om ’n verskil in die hede te maak
- Ester – God in die gang van groter gebeure