Lida se bonsais verfraai die kapeldiens

Wanneer ’n mens voor Lida Weich se huis stop, hoef jy nie te wonder wat haar stokperdjie is nie, want haar hele tuin staan stampvol eksotiese bonsaibome.  Sommige, soos ’n olyfboom en ’n kiepersol, se stamme is so dik hulle spog met ’n deursnee van meer as 20 cm.

Lida is al meer as 40 jaar lidmaat van die gemeente en het ongeveer 30 jaar gelede haar hand aan die kweek van bonsaiboompies gewaag.  Die bonsai-gogga het haar gebyt toe haar seun met ’n bonsai, ’n witstinkhoutboom, by die huis aangekom het.  Hy was toe ’n student en baie uithuisig en sy het opgelet dat die boompie verwaarloos begin lyk.  Lida het toe ingespring en die versorging van die witstinkhout oorgeneem en sedertdien het sy al meer as 100 bome in bonsais omskep.

“Ek geniet die meditatiewe diens wat in die kapel aangebied word en woon dit elke Sondag by,” sê Lida.  “Ek het opgemerk dat Philipp daarvan hou om ’n plant of ’n groenigheid in die kapel te plaas tydens Sondae se meditatiewe dienste en het toe met hom gesels en aangebied om elke Sondag ’n bonsaiboompie te bring wat hy in die kapel kan uitstal.  Hy werk voltyds, het ’n gesin en doen ten spyte daarvan soveel moeite met die aanbieding van die meditatiewe dienste.  Ek hoop dat ek op dié manier sy taaklas ’n bietjie kan verlig.

“Ek gee die bonsais twee keer per dag water deur middel van besproeiing, omdat hulle in vlak bakke met min grond groei en ek snoei hulle amper daagliks deur puntjies af te knip wat nuwe groei aanmoedig en die vorm van die boom manipuleer.

“Almal was baie opgewonde oor die asaleaboom wat ek in September na die kapeldiens gebring het.  Die asaleas is pragtig in die lente en die lente is ook die seisoen wanneer die bonsais aan my die grootste vreugde verskaf.  Wanneer nuwe blare spruit of blomme oopvou, beleef ek die Skepper se teenwoordigheid eerstehands in my tuin.

“As lidmaat van die gemeente het ek en my oorlede man ’n jarelange verbintenis met ds. Callie Visagie, wat ons so goed ondersteun het toe my man vir ’n hele klompie jare ’n stryd met kanker gevoer het, gehad.  Hier waar ek nou in Oude Westhof-aftreeoord woon, is die meeste mense lidmate van Welgemoed-gemeente, maar ek bly ’n Stellenberger.”

Dit was ’n voorreg om by jou in te loer, Lida en te gesels oor jou liefde vir die natuur en ook ons gemeente.  Jou betrokkenheid is vir ons kosbaar. Red.

Die meditatiewe diens word tydens skoolkwartale om 09:00 in die kapel aangebied.  Die diens word deur ds. Phlipp Dietmann behartig en word in ’n meditatiewe styl met musiek, gebed en geleentheid tot nadenke aangebied.