Leeu-Gamka en sy mense is aan my geskenk

Deur: Anja Stofberg*

Ek het nou lank gesit en dink aan hoe ’n mens iets wat so ’n groot impak op jou lewe gehad het, kan beskryf.

Ek dink ek sal graag met blydskap begin: Die glimlagte op almal in die gemeenskap se gesigte. Die oorweldigende blydskap van die kinders van die begin tot die einde. Die inwoners wat so baie ook van jou as mens wil weet.  Elke groet in die verbystap, hoe hulle net so bly is om te stop en met jou te praat, waar in die normale gang van die lewe jy net verby iemand  sou stap en nie weet wat in daardie persoon se lewe aangaan nie. Die gelag van die kinders vir die kleinste goedjies en hoe dankbaar hulle is vir dit wat hulle het, het my opnuut laat besef hoe baie ek het en dan steeds kla oor goed wat nie eers saak maak nie.

Dan is daar die keersy: Die aantal mense sonder werk en die aantal tieners wat nie hoërskool toe kan gaan nie, omdat hulle nie vervoer het nie. Die kinders wat moed opgee, omdat hulle nie dink daar is iets anders vir hulle buite Leeu-Gamka nie en dat die mense daar net sit en wag om dood te gaan. Die skokkende hoë voorkoms van dwelmmisbruik onder tieners – ’n twaalfjarige meisie het ’n groepsessie bygewoon terwyl sy onder die invloed van die een of ander middel was. En hoe hulle verkeerde goed begin doen omdat daar eenvoudig niks beters is om te doen nie.

En ook hoop: Hoe ’n glimlag, ’n handjie vashou en iets eenvoudigs soos om iemand se naam te vra, vir hulle ongelooflike waarde en betekenis het.  Die tikkie hoop wat tog wel in die gemeenskap bestaan en die goeie voorbeeld wat deur die gemeenskapleiers gestel word. Die passievolle wyse waarop hulle die Here dien,  waaroor ek met eerlikheid kan sê dat hulle dit nie halfhartig doen nie, maar met volle oorgawe.  Ek het ook die voorreg gehad het om met die paramedici wat diens op die dorp doen te gesels en al die stories te hoor van wat hulle al beleef en gesien het, maar ook hoe sterk hulle geloof is.

My geskenk: Ek het by hierdie gemeenskap geleer om dankbaar en geduldig te wees en opreg belang te stel in die mense om jou.

Ek wil afsluit deur vir Stellenberg-gemeente dankie te sê.  Julle harte is op die regte plek en dit kan ’n mens sien in die wyse waarop julle ander mense hanteer, ongeag waarvandaan hulle kom.  Die uitreik se spanlede is altyd passievol oor alles wat hulle aanpak en dis inspirerend.  Die Here het julle en Leeu-Gamka  my oor my pad gestuur en ek is bitterlik lief vir julle elkeen. Julle gee aan mense hoop vir ’n beter wêreld.

* Anja Stofberg is ’n graad 10-leerder aan die Hoër Meisieskool Paarl en haar ouers boer naby Rawsonville.  Sy het saam met ’n vriendin in Stellenberg-gemeente aan die uitreik deelgeneem.