Konflik tussen Israel en die Palestyne. Watter kant kies jy?

Deur: Ds. Marius Breytenbach

Die voortslepende konfliksituasie tussen Israel en Hamas het wêreldwyd uiteenlopende emosies en reaksies by mense ontlok. Mense is hartseer, kwaad, ontnugter en moedeloos oor ‘n situasie wat geen einde ken nie en waarin vergelding hoogty vier. Van regeringsvlak tot by braaivleisvure word oor en weer politieke en godsdienstige debatte gevoer waarin mense opponerende standpunte inneem. Let op hoe in die meeste gevalle sulke gesprekke in ‘n dooie frustrasie uitloop omdat niemand sy/haar oortuigings wil bes gee nie. Is dit dan hoe dit is? Dat ons met geen ander opsie gelaat word as om vir of teen ‘n kant te kies nie. Die humanitêre krisis wat as gevolg van die konflik ontstaan het, verg egter ’n heeltemal ander gesindheid en respons van ons.

Wanneer Christene van ons land Israel besoek, doen hulle dit meestal in die verwagting om te kan loop waar Jesus en ander Bybelse karakters geloop het. Mense kom terug en getuig van wonderlike geestelike belewenisse. Vir toeriste is die mediabeelde wat die afgelope maand vanuit Israel en Palestynse gebiede uitgesaai is, onbekend. Die beelde skets ‘n ander prentjie as foto’s wat jy in toeralbums sien en dring ons in die lig van ons geloof tot ’n diepliggende besinning. Wanneer ’n mens tyd inruim om op jou besoek aan Israel met die plaaslike Joodse en Palestynse bevolking te praat en wyer te kyk as net die bekende Bybelse toeristeattraksies, gebeur daar skielik iets onverwags met jou. Eerder as net ’n heilige plek, bring dit jou by ‘n heilige oomblik uit om verby die “oog vir oog en tand vir tand”-politiek van die Hamas-beweging en Netanyahu se regerende party, waarin Jode en Palestyne tans vasgevang voel, te kyk. Die realiteite in hierdie konflik is kompleks en ‘n mens moet waak om nie alle Jode en Palestyne te meet aan die invloed van bogenoemde partye nie.

Dié konflik wat die afgelope eeu begin broei het, toon soveel noue assosiasies met gebeure in ons eie land voor 1994 toe bevolkingsgroepe vir ‘n eie bestaansreg in ‘n stryd met mekaar gewikkel was en landsburgers onder die trauma van terreur moes leef.  ’n Mens wonder hoe die voorgestelde tweestaat-oplossing vir Israel en Palestina in ons eie land sou gelyk het as ’n kompromie?  ’n Eie staat vir elke bevolkingsgroep om hulle eie ding te doen met mure wat hulle omring en reëls wat toegang beheer. In Suid-Afrika het ons ‘n eenstaat-oplossing gekies. Nie vir of teen ‘n bevolkingsgroep nie, maar uit die oortuiging dat dié land ‘n tuiste vir almal kan wees. Dié keuse is steeds beslis nie sonder groeipyne nie, maar ’n mens is dankbaar dat dit nie geëskaleer het tot die voortslepende situasie in Israel en Palestina nie. In Levitikus 25:23 beveel God dat geen grond permanent verkoop mag word nie, omdat dit aan Hom behoort en mense slegs net vreemdelinge en bywoners by God is. Hierdie beginsels, wat in beide die godsdienstige geskrifte van Jode en Moslems voorkom, bepleit by hul volgelinge om eerder te saai as te maai. Dit laat ’n mens diep nadink oor die keuses waarby konfliksituasies ons uitbring. Hoe gaan ons reageer?