Jongmense oorwin die “Kaap se Kilimanjaro”

Deur: Mia Smuts

Arangieskop, net buite Robertson, is op 5 en 6 Oktober deur 12 Annibrand Seniors, onder die leiding en wakende oog van onder andere ds. Marius Schoombie, uitgeklim.

Ons het om 04:30 die pad na Robertson aangepak, ’n noodgedwonge koffiestop gemaak en toe kort voor lank het ons ons aan die voet van die imposante bergspits bevind. Met oë gerig op die piek, 1 200 meter bo ons koppe, het ons moed in ons tekkies gesink.

Op die eerste stapdag het ons 10 kilometer afgelê. Gereelde stoppe is gemaak om nie net asem te skep nie, maar ook om die beeldskone omgewing te waardeer. Die blomme was oop en ’n mens het met elke rondkyk, iets moois gesien. Daar was baie water langs die roete, waar ons waterbottels kon volmaak en ’n paar brawe stappers ook die yswater kon aandurf en swem.

Nadat 1 100 meter se boontoe klim agter die blad was, het ons groot vreugde gevind in ons eerste blik op die oornaghut. Almal het sommer dadelik op die grasperkie buite die hut neergestort en die grootheid van die ononderbroke uitsig op die vallei en omringende bergreeks bewonder. Alhoewel die wind ons gelooi het, het die groep tog buite om die tafel gesit en kuier en later ’n pragtige sonsondergang aanskou.

Diegene wat die volgende oggend vroeg genoeg uit hulle slaapsakke gekruip het, is met ’n besonderse sonsopkoms beloon. Ons het vroeg begin stap en vinnig die laaste stukkie bergop klim voltooi om die piek van Arangieskop te bereik. Ons posisie op die kruin het aan ons ’n eindelose panoramiese uitsig oor die Robertsonvallei aan die een en die Koo-vallei aan die ander kant, gebied.

Toe wag die uitmergelende afwaartse tog natuurlik op ons. Dit was 12 kilometer van baie steil afdraandes, ompaaie en nogmaals pragtige natuurskoon, voordat ons ons weer by die beginpunt bevind het.

Met die aanvang van ons staptog, het ds. Marius Schoombie vir ons ’n boekmerk met dié teksgedeelte uit 1 Konings 19:7-13, gegee:

7 Die engel het ‘n tweede keer aan hom geskud en gesê: “Word wakker! Eet! Anders sal die pad vir jou te lank word.” 8Toe staan hy op en hy eet, en deur die krag van die kos kon hy veertig dae en veertig nagte lank loop tot by Horeb, die berg van God. 9Hy het in ‘n grot ingegaan en die nag daar deurgebring. Toe het die woord van die Here tot hom gekom en vir hom gesê: “Wat maak jy hier, Elia?” 10Hy antwoord toe: “Ek het my met hart en siel gewy aan u saak, Here, Almagtige God. Die Israeliete het die verbond met U verbreek. Hulle het u altare afgebreek en u profete doodgemaak. Net ek alleen het oorgebly, en hulle soek my om my ook om die lewe te bring.” 11Maar die Here sê vir hom: “Kom uit, en gaan staan op die berg voor My, die Here, Ek wil verbygaan.”Skielik was daar ‘n baie sterk wind wat die berg stukkend geruk en die rotse gebreek het voor die Here. Maar in die wind was die Here nie. Na die wind was daar ‘n aardbewing. Maar in die aardbewing was die Here nie. 12Na die aardbewing was daar ‘n vuur. Maar in die vuur was die Here nie. En na die vuur was daar ‘n fluistering in die windstilte. 13Toe Elia dit hoor, het hy sy gesig met sy mantel toegemaak en by die bek van die grot gaan staan. Toe hoor hy ‘n stem wat vir hom sê: “Wat maak jy hier, Elia?”

Die staptoer was uiteindelik ’n pelgrimstog, waar ons opnuut en tree vir tree van God se teenwoordigheid bewus kon word – die “fluistering in die windstilte”. Ons fisiese roete het wel presies geëindig waar ons begin het, maar ons elkeen se persoonlike pad wat ons daardie naweek nader aan God gebring het, het elkeen se eiesoortige storie vertel.

Mia Smuts | Mia is ’n graad 12-leerder wat in die gemeente grootgeword het.  Sy beoog om volgende jaar medies aan die Universiteit van Stellenbosch te studeer.