As Jood het Jesus binne die godsdienstige tradisie waarin Joodse families jaarliks vir drie prominente feeste na Jerusalem gereis het, grootgeword (Eksodus 23:14-19, Lukas 2:41). Tydens Paasfees het die Jode volgens die voorskrifte in Deuteronomium 16:1-8, die Israeliete se uittog uit Egipte en hulle bevryding van slawerny gevier. Met die Joodse Pinksterfees wat vyftig dae daarna gevolg het, het die Jode die dag waarop God die Wet aan Moses op die berg Sinai gegee het, herdenk. Dit is ook as ’n oesfees herdenk. Die derde Joodse fees, die Loofhuttefees, het God se sorg tydens die 40 jaar waartydens die Israeliete in die wildernis rondgeswerf en in tente (hutte) gebly het, herdenk (Deuteronomium 16:13-17; Levitikus 23:42-43).
Jesus het, soos die meeste ander pelgrims, ’n week voor die Paasfees al in Jerusalem aangekom om vir die fees voor te berei. Pelgrims moes ook vir die tradisionele reinigingshandelinge in die tempel aanmeld en voor die aanbreek van die fees plaaslik ’n paaslam bekom om te slag. Volgens koning Agrippa se berekeninge het ongeveer ses miljoen mense die fees bygewoon. Sommige geleerdes meen egter dat dit ’n oordrywing is en skat die getal nader aan drie miljoen. Hoeveel mense daar werklik was, is moeilik om te bepaal, maar ons weet wel dat ’n groot getal mense vir die week in ’n baie klein ruimte ingedruk is. Weens die gebrek aan blyplek het baie pelgrims soos Jesus en sy dissipels, net buite die stad in die tuin van Getsemane oornag.
Die hart van die fees, wat ’n week geduur het, was die pasgamaal op die Donderdagaand. Dit is dan ook die aand waarop Jesus tydens die maaltyd die nagmaal ingestel het. Die woord Pasga kom van pesach (Hebreeus) wat beteken “om verby te gaan” of “oor te slaan”. Dit verwys na die engel van die Here wat, net voor die tiende plaag Egipte getref het, die Israeliete wie se huise met bloed bestryk was, verbygegaan het, sodat die plaag hulle nie sou tref nie. Die Jode eet ook steeds die tradisionele disse wat hulle herinner aan die verlossing uit die slawerny in Egipte. Die soutwater wat saam met ’n eier en groente geëet word, is ’n herinnering aan die trane wat hulle in Egipte gestort het, die bitter kruie aan die bitter dae in Egipte, ’n mengsel van heuning en appel aan die klei waarmee hulle moes bou, die ongesuurde brode aan die feit dat daar nie tyd was om brooddeeg te laat rys nie. Volgens die voorskrifte is alle suurdeeg voor die maaltyd uit huise verwyder en elders verbrand (Eksodus 12:15-20). Die proses om suurdeeg te verwyder het al weke voor die fees begin en die aand voor die paasmaaltyd het die hele gesin deelgeneem aan ‘n laaste soektog na alle oorblywende suurdeeg. Elke gesin moes ook ’n eenjarige lam sonder gebrek of letsels bekom, wat dan die Donderdagmidag tussen drie- en sesuur volgens streng voorgeskrewe reëls in die tempel geslag is. Die bloed van die lammers is opgevang en oor die altaar uitgegiet, terwyl die vet geoffer is. As ’n mens die getal pelgrims in ag neem moes 125 000 lammers die Donderdag in die tempel geslag word! Markus 14:12-16 vertel vir ons hoe Jesus twee van sy dissipels die Donderdag uitgestuur het om al hierdie voorbereidings af te handel. Vanaf sesuur die Donderdagaand het gesinne en bure saamgekom om die paasmaaltyd wat volgens voorgeskrewe regulasies binne die stad moes plaasvind, te nuttig.
Vir die Romeine, wat in hierdie tyd oor Israel regeer het, was die Paasfees ’n nagmerrie. Met soveel Jode bymekaar om hulle bevryding uit Egipte te vier, was die potensiaal vir opstand teen die Romeinse Ryk groot. Pontius Pilatus, die Romeinse goewerneur van Judea, het daarom tydens die Paasfees met ’n groot aantal soldate van Seserea na Jerusalem gereis. Van hulle militêre kaserne, wat teenaan die tempel gebou was, kon hulle enige opstand fyn dophou en vinnig onderdruk. Dit is teen hierdie agtergrond dat die Jode Jesus die Vrydagoggend vroeg na Pilatus geneem het en om gemoedere te laat bedaar, het Pilatus aan die versoek van ’n groep oproerige Jode toegegee, om Jesus te laat kruisig (Markus 15:13-15).
In die Bybel getuig die Evangelies van Matteus, Markus, Lukas en Johannes oor die gebeure van die Groot Lydensweek. Wanneer ’n mens die presiese gebeure uit die vier Evangelies probeer rekonstrueer, is daar merkbare verskille wat jou deurmekaar kan maak. In die plek van die tradisionele nagmaal, vertel die Evangelie van Johannes byvoorbeeld dat Jesus sy dissipels se voete was en meld nie die instelling van die nagmaal nie. Jesus sterf volgens dié Evangelie op die dag waarop die paaslammers in die tempel geslag word, ’n dag vroeër as in Markus, Matteus en Lukas. ’n Mens moet in gedagte hou dat die skrywers van die vier Evangelies se doel nie was om ’n historiese weergawe neer te pen nie, maar bloot die gebeure, vir die gemeenskappe vir wie hulle geskryf het, wou interpreteer. Markus, wat as die oudste Evangelie gereken word, dateer heel moontlik uit 65-69 n.C. (amper 35 jaar na die gebeure) en is in Rome vir heidengelowiges geskryf. Die drie ander Evangelies dateer uit die daaropvolgende dekades (70-100 n.C.) en reflekteer die omgewing en leefwyse van ’n tweede generasie gelowiges wat buite Jerusalem gewoon het. Die Evangelie van Markus is baie interessant omdat amper die helfte daarvan oor die Groot Lydensweek getuig en word dikwels die “donker Evangelie” genoem. Dit vertel nie soos Matteus en Lukas van die blydskap oor Jesus se geboorte nie, maar fokus eerder sterk op Jesus se lydensverhaal. Dié Evangelie het aanvanklik by Markus 16:8 geëindig met die vroue wat verskrik van die graf van Jesus wegvlug nadat hulle dit leeg vind (sien voetnota by die teks in jou Bybel). Sommige teoloë beweer dat dit die gelowiges in Rome, wat onder die vervolging van Nero deurgeloop het en vir wie hierdie Evangelie geskryf is, se geloofservarings verwoord het. Vandag daag al vier Evangelies ons uit om Christus se sterwe en opstanding in ons eie, unieke leefwêreld te herleef en te beleef en spoor dit ons aan om daardeur geraak en verander te word.