Het Covid-19 ons kinders se luistervaardighede beïnvloed?

Deur: Jacolien Kruger*

Die meerderheid van ons is nou waarskynlik behoorlik moeg vir die woorde Covid-19-pandemie.  Wanneer daar enige berig oor Covid-19 op ’n sosialemediaplatform verskyn, maak ek seker dat ek dit mis en beweeg doodluiters na ’n meer inspirerende prentjie, of kyk liewer na ’n video oor katjies. Die feit bly egter staan dat al vermy ons Covid-19-nuus sover moontlik, gaan die nagevolge van dié tydperk nog lank deel van ons en ons kinders se lewens wees.

Een so ’n gevolg is die impak wat die dra van maskers op ons kinders se luistervaardighede het, ofte wel, hul ouditiewe persepsie en prosessering.  Voordat ’n mens egter kan verstaan wat die werklike effek ten gevolge is, moet die begrip ouditiewe prosessering eers verstaan word en hoe sodanige prosessering in grondslagfaseleerders se lewens verloop.

Wat is ouditiewe prosessering?

Dit is die brein se vemoë om ouditiewe seine (m.a.w. dit wat ek hoor) te verstaan en te interpreteer.  Dit is ’n sambreelterm wat verskillende ouditiewe funksies, wat saamwerk om dan ouditiewe persepsie te vorm, omvat.

Hierdie funksies sluit in:

  • Ouditiewe diskriminasie: Dit is die vermoë om ooreenkomste en verskille in klanke te hoor, bv. wanneer is die klank hard, sag, hoog, laag, ens.  Dit help ons ook om die verskille in klanke te identifiseer, byvoorbeeld tussen kat en gat – is dit dieselfde?  En kat en kat – is dit dieselfde?
  • Sintese en Analise: Dit behels die vermoë om te begryp dat taal uit verskillende foneme (klanke) bestaan, wat ons moet saamvoeg om die woorde te vorm wat ons gebruik wanneer ons praat of skryf. Dit help kinders om te verstaan dat woorde uit individuele klanke bestaan.  Voorbeelde van sintese: reën+boog = reënboog; k+a+t = kat.  Analise: Klap van hande tussen lettergrepe.
  • Ouditiewe voorgrond- en agtergrondpersepsie: Dit is die vermoë om klanke te isoleer in die teenwoordgheid van ander klanke.  Voorbeeld van ’n vraag: Wat hoor jy buite? (’n Motor, hond, ens.)  In situasies waar ons moet luister en konsentreer, is hierdie ’n belangrike vaardigheid.
  • Ouditiewe sluiting: Dis om te luister tot aan die einde van ’n reeks klanke.  Hierdie vaardigheid is uiters belangrik om lees en skryf suksesvol te kan bemeester.
  • Ouditiewe geheue en herroeping: Dit is die vermoë om dit wat jy gehoor het te onthou, te herroep en die informasie te kan weergee aan ander.  Voorbeeld: Die vertel of lees van stories aan kinders oefen dié vaardigheid.
  • Ouditiewe opeenvolging: Om dit wat ek gehoor het, presies in die regte volgorde te herroep en weer te gee, verg konsentrasie en oefening.  Hierdie vaardigheid is uiters belangrik vir akademiese vordering in spelling en wiskunde.

 Hoe beïnvloed Covid-19 en die dra van maskers ons kinders se ouditiewe prosessering?

 Ouditiewe prosessering word sterk beïnvloed deur wat kinders hoor en nie noodwendig wat hulle sien nie.  Wanneer mense maskers dra, word die uitspraak van klanke oor die algemeen belemmer en is dit baie moeiliker vir kinders wat reeds sukkel met ouditiewe persepsie om te hoor wat ’n juffrou in ’n klassituasie sê.  Volwassenes ervaar soortgelyke frustrasie wanneer inkopies in ’n winkel gedoen word, maar soveel te meer is die frustrasie in ’n klaskamer met 25 besige leerders.  Maskers gaan nog etlike maande (dalk jare) met ons wees en daarom is dit belangrik dat ons kinders moet oplei om te luister, sonder visuele insette.

Wat kan ek doen om my kind se ouditiewe persepsie te versterk?

 Kinders is smiddae na skool moeg gewerk, maar hulle is altyd gretig om te speel. Ons moet dus luistervaardighede speelsgewys aanpak.  Hier is ’n paar wenke:

  • Speel die ou bekende speletjie Simon says, maar gebruik ’n papierbord om jou mond weg te steek.  Maak seker jou oë is steeds sigbaar.
  • Knip ’n paar items uit ’n advertensieblad, bv. seep, brood, botter en lekkers.  Plaas dit op die tafel voor jou kind.  Maak ’n mannetjie uit ’n papboks.  Knip slegs die mond van die mannetjie uit, groot genoeg vir die items om daarin te pas sodat die mannetjie gevoer kan word.  Die doel is dat die kind eerstens moet luister watter van die items hy/sy gevra word om op te tel.  Dan word getoets of hy/sy dit in die regte volgorde optel en laastens word bepaal hoeveel items hy/sy kan onthou.  Sit langs jou kind om luister te vergemaklik en gee dan die opdrag deur te vra dat hy/sy vir die mannetjie byvoorbeeld ’n appel, botter, kaas en ’n lepel moet gee.   ’n Sesjarige kind moet ten minste ses items in die korrekte volgorde onthou.
  • Speel raai-raai-speletjies. Die volgende is ’n prettige speletjie vir ’n groepie.  Pak ’n kussingsloop vol items. Gee elke kind ’n beurt om iets uit die sloop te haal sonder dat hulle sien wat uitgehaal word.  Jy bied dan leidrade aan sodat hulle kan raai wat die item is sonder dat die item benoem word.  Dié speletjie bevorder luistervaardighede en konsentrasie, asook woordeskat.  ’n Voorbeeld is:  Die dier gee melk, sy eet baie grassies en is meestal swart en wit.
  • Skakel die radio in ’n vertrek aan en maak seker dit is nie te sag nie.  Hou jou hand voor jou mond en maak dieregeluide.  Vra jou kind om die geluide te identifiseer. Die speletjie leer hulle om onderskeid tussen voor- en agtergrondgeraas te tref.

’n Kind wat met wiskunde sukkel, wie se woordeskat nie op standaard is nie, lomp sinne bou,  sukkel met die uitspraak van sekere klanke, of baie sukkel om die begin- en eindklanke in woorde te hoor en te spel, kan aanduidings wees dat die kind met ouditiewe prosessering sukkel en ouditiewe prosessering word ongelukkig negatief beïnvloed deur die dra van maskers.

Skakel ons gerus vir meer wenke, of ’n volledige assessering van jou kind se ouditiewe vaardighede.  Ons kan ook gehoorsiftings doen om die moontlikheid van geringe gehoorverlies uit te skakel.

Covid-19 en die dra van maskers kan nie vermy word nie, maar ons kan wel die geleentheid benut om ons kinders te leer om te luister en die silwer randjie in alles te soek!

|Jacolien Kruger is ’n spraakterapeut verbonde aan die Stellenberg Ondersteuningsentrum.