Hanlie Reinecke was die afgelope ses jaar die gemeente se terreinbestuurder. Die gemeentekompleks is groot en hier vind weekliks ’n groot verskeidenheid aktiwiteite, van begrafnisse tot sinodale vergaderings en besigheidseminare, plaas. Al die bedrywighede verg kophou en baie goeie beplanning. Gelukkig is Hanlie besonders bedrewe met die gebruik van die Excelprogram wat haar met die koördinering van terreinaktiwiteite gehelp het. Kollegas gaan dit baie mis om by haar kers op te steek om meer van dié sagteware se funksies te wete te kom.
Te midde van al die gemeente se bedrywighede wat bestuur moes word, het Hanlie ook ernstige gesondheidsprobleme wat heelwat uidagings aan haar gestel het.
“Ek het baie geworstel met myself – oor my toekoms en wat die regte stappe sou wees om na myself om te sien,” sê Hanlie. “Nadat ek bedank het, en nog baie onsekerheid rakende die besluit beleef het, het ek op ’n dag die mooi storie gehoor van ’n voëltjie wat in die stad geleef het en toe sy vermoë om te fluit, verloor het. Die voëltjie moes toe na sy habitat terugkeer om weer sy fluit te vind. Die storie het my diep geraak, want ek het meteens besef dat dit presies is wat ek moet doen – ek moet weer my fluit vind deur myself te herontdek. My toekomsplanne is steeds baie onseker, maar oor een ding is ek seker – ek gaan heel eerste my fluit soek!”
Ons wens jou baie voorspoed toe, Hanlie. Dankie vir goeie jare saam as kollega en mag die klank van jou fluit eersdaags weer helder in die woud van die lewe weergalm. Red.