Deur: Emma du Pisani
Die afgelope jaar was vir my soos ’n wipplankrit. Daar was baie goeie tye, maar ongelukkig ook minder goeie tye. Ek was baie gefrustreerd tydens die inperking, maar dit het my ook die nodige tyd gegee om uit te vind wie ek waarlik is en waarvan ek hou. Ek het myself geleer om brood te bak en kos te maak. Ek het geverf en geteken. Ek het vriende verloor en ek het vriende bygekry. Ek kon doelbewus, enige tyd van die dag, Bybelstudie doen. Ek het saam met my gesin gelag, gespeel, geoefen en ook gehuil. Omdat ons nie so baie tyd saam met ander mense kon deurbring nie, het ek meer afhanklik van myself en my Skepper geraak, eerder as om te wonder wat ander mense sê, of dink. Daar was beslis uitdagende tye met argumente en hartseer, maar die goeie fondasie wat ek tydens die afgelope jaar gebou het, staan steeds sterk. Ek sal nooit verstaan hoekom al hierdie pyn moes gebeur nie, maar ek is dankbaar vir die kwaliteittyd en liefde wat daaruit voortgespruit het.
| Emma du Pisani is ’n graad 12-leerder en lidmaat van die gemeente.