Stellenberg Annibrand het 2024 met baie energie afgeskop tydens die jaarlikse graad 8-kamp wat vanaf 12 tot 14 Januarie by die Apostelbattery-kampterrein aangebied is. Die kamp word jaarliks in samewerking met Sonstraal-gemeente en Stellenberg Hoërskool aangebied.
Die kamptema Into the unkown was daarop gemik om die oorgangsfase vanaf graad 7 na graad 8 te vergemaklik. Ruimte is dus vir die graad 8’s geskep om nuwe vriende te maak en om ’n stukkie van Jesus te beleef.
’n Groot span leiers het al van verlede jaar af hard gewerk aan die kamp se beplanning, sodat die kamp ’n spesiale ervaring sou wees vir elke leerder wat dit bywoon. Die kamp maak altyd staat op ’n groot groep graad 11- en 12-leerders wat as groepleiers vir die graad 8’s optree. Die kamp help dus ook om die leiers toe te rus met leierskapsvaardighede vir die toekoms.
Daar is gedurende die kamp geleentheid geskep waar die kinders hulle vrese en drome in God se hande kon plaas, waar hulle, hul hart opnuut vir die Here kon gee en waar hulle kon besef dat Jesus saam met hulle die onbekende instap. Aangesien minstens 10% van die kinders wat vir die kamp ingeskryf het, aangedui het dat hulle nie aan enige kerk behoort nie, was die kamp ’n geleentheid vir Stellenberg-gemeente om oor grense heen uit te reik.
Van die hoogtepunte van die kamp was die strandspeletjies, gebedstasies en lof-en-aanbidding-sessies. Ons het eerstehands ervaar hoe die graad 8’s, asook die leiers, gegroei het oor die verloop van die naweek, veral deur die lof-en-aanbidding-sessies. ’n Ouer getuig soos volg:
“Baie, baie dankie vir die naweek!!!! My seun is nie ’n praise and worship-man nie, maar sy stem is weg en hy sê sy hoogtepunt was die 30min.-sing-sessies”
As jy meer te wete wil kom oor die graad 8-kamp en op hoogte wil bly oor Stellenberg Annibrand jeug, volg ons op Instagram deur op die skakel te kliek: https://www.instagram.com/stellenberg_gemeente_annibrand?igsh=MWtoeGd2bDQwcWpycg==