Deur: Ds. Schalk van Wyk
Pinkster is tempeltyd. Na die tempel het ons verlede week net in die verbygaan, vlugtig, geloer. Hierdie week wil ek u aandag vra vir ʼn stukkie tempelgeskiedenis – van die skepping af tot by die voleinding, die openbaring van die heerlikheid. Dan sal u verstaan hoekom ek sê, Pinkster is tempeltyd.
ʼn Tempel is ʼn plek waar die hemel en die aarde oormekaar skuif – één plek word, hemel op aarde word. Van dié twee begrippe, hemel en aarde, is die aarde meer verstaanbaar. Van die hemel weet ons maar min, en verstaan nog minder. Ek praat nou van die derde hemel in Bybelse sin. Die eerste hemel kan ons met die blote oog sien: Dit is die blou lug bo ons, die plek waar die wolke saampak. Dit is die hemel wat in Psalm 19:1 God se lof verkondig. Die tweede hemel (volgens die mense van die antieke tyd) is die woonplek van die son, maan en sterre (Psalm 8:2). Van hierdie tweede hemel weet sommige hedendaagse mense (die wat slim genoeg is om formules soos E=mc2 te verstaan) ook baie. En dan praat Paulus van die derde hemel (2 Korinthiërs 12:2). Hy is weggeruk daarheen, vertel hy. Die hele gebeurtenis is vir hom ʼn misterie. Hy weet nie of dit net sy gees was en of hy met sy lyf en al daar was nie. Hy sê ook niks oor wat hy gesien het nie. Hy het wonderbare dinge gehoor, maar wat hy gehoor het, kan nie eens uitgespreek word nie. Die derde hemel is die woonplek van God (Prediker 5:1). Oor hierdie hemel moet ons liewer nie vir ons te slim hou nie, maar ons weet dit: God is gees (Johannes 4:24).
Omdat God Gees is, en alomteenwoordig is, is God nie aan ruimte, tyd of plek gebonde nie. Ruimte, tyd en plek is alles deel van God se skepping – en God is groter, ruimer, ewiger, anderster as die ruimte waarin daar lank gelede (so verneem ek) ʼn groot knal was. Ek verstaan niks van God se ewigheid, alomteenwoordigheid en oneindigheid nie. Ek kan dit bloot bely omdat ek dit só in die Bybel kry. As die hemel die woonplek van hierdie God is, kan dit nie ʼn plek wees soos ons ʼn plek verstaan nie. Die woorde wat hierdie wyse van bestaan beskryf, is werklik woorde wat nie uitgespreek kan word nie, wat selfs nie eens mag genoem word nie (2 Korintiërs 12:4). Daarom het God, toe God alles wat bestaan deur die Woord gemaak het (Johannes 1:1-3) ʼn tempel bedink. God het immers geweet dat mense aan niks of niemand kan dink wat nie iewers op ʼn plek is nie, maar God is nié iewers op ʼn plek nie. God wou egter hê dat ons aan God moet kan dink, want God is liefde. ʼn Tempel, het God geweet, sou help. ʼn Tempel is ʼn plek, en die God wat oral is, het besluit om vir Godself ʼn plek, ʼn adres te skep – die tempel sou daardie adres wees.
Genesis 1 is geskryf toe daar alreeds baie tempels was, want voor God vir Abraham geroep het, was daar mos al afgodstempels. Die heidene het reëls gehad oor hoe ʼn tempel gebou moet word. ʼn Tempel is in sewe fases gebou en in die sesde fase is ʼn beeld van die afgod wie se tempel dit is, in die tempel geplaas. Toe het die Gees van God ʼn digter geïnspireer (2 Tim 3:16) om ʼn gedig te skryf oor die ware God wat vir homself ʼn tempel gebou het. Hierdie God het sy tempel in sewe dae gebou en op die sesde dag het hierdie God mense, ʼn man en ʼn vrou, as sy beeld in die tempel geplaas. Die hele aarde, so het hierdie gedig vir die afgodsdienaars van die ou wêreld gepreek, is bedoel as die tempel van die ware God, die God wat Abraham geroep het, die God wat ook Isak en Jakob se God wou wees, die God in wie Israel glo.
Hierdie jubelende lied, die Bybel se eerste hoofstuk, word ook die jubelende lied van die Bybel se voorlaaste hoofstuk (Openbaring 21:22). Tussen die Bybel se eerste hoofstuk en voorlaaste hoofstuk is daar egter ʼn hele tragiese geskiedenis van sonde, van mense wat uit die eerste tempel, die tuin van Eden verban is, maar nie uit die hart van God nie. Geleidelik het God weer tekens van die voleinding begin oprig, want God se liefde kan nie uitgeblus word deur mense se sonde nie. Dit is so onuitblusbaar soos die glans van vuur wat op die tabernakel, en die tonge van vuur wat Pinksterdag op die gelowiges, neergedaal het.
Toe God Israel uit Egipte uitgelei het, het God in die plek van die tuintempel weer vir Israel ʼn plek gegee wat kon geld as God se adres – die tabernakel. Die tabernakel was ʼn klein deeltjie van die kampterrein waar God letterlik vir God self in die Israeliete se kampterrein ʼn tent laat opslaan het, sodat God in hulle midde, saam met hulle kon uitkamp. As teken van God se heerlikheid in hulle midde was daar ʼn wolk oor die tent in die dag en die glans van vuur in die nag (Eksodus 40:34; Numeri 9:15-16).
Vir baie jare lank was die tabernakel God se adres. As die hoëpriester daar in die allerheiligste ingestap het, was hy op die plek waar hemel en aarde bymekaarkom. Later is die tabernakel deur ʼn tempelgebou vervang.
Toe Salomo die eerste tempel inwy, het die heerlikheid van God weer sigbaar in hierdie tempel ingetrek (1 Konings 8:1-11). Weer was daar ʼn wolk wat gesimboliseer het dat God in hierdie tempel kom woon, dat dit God se adres geword het, dat hemel en aarde in die allerheiligste oormekaar skuif, een ruimte word, al moet Salomo bely dat selfs die derde hemel God nie kan omvat nie (1 Konings 8:27).
Die volk se ongehoorsaamheid het egter daartoe gelei dat hulle soos Adam en Eva destyds uit die tuin van Eden, dié slag uit die beloofde land verban is. Die tempel in Jerusalem hou toe ook op om God se adres te wees. Esegiël het gesien hoe die heerlikheid van die Here die tempel verlaat (Esegiël 10). Ná die ballingskap kon die Israeliete die ou tempel weer herbou, maar die groot hartseer was dat die heerlikheid van die Here nooit weer na daardie tempel teruggekeer het nie; daar was nie ʼn wolk nie, en nie die glans van vuur nie. Dit was steeds ʼn tempel met ʼn allerheiligste, maar sonder die heerlikheid van die Here. Selfs nie eens toe koning Herodus ʼn pragtige nuwe tempel laat bou het, het die teenwoordigheid van die Here daar ingetrek nie. Daar was geen wolk nie, geen vuurglans nie. Dit het eers weer God se adres geword toe Jesus daar instap – maar dit was omdat Jesus self die tempel was, die plek waar die Hemel (Seun van God) en die aarde (die mens, Jesus) oormekaar geskuif het, een geword het. Toe kon Hy dit noem: Die huis van my vader (Lukas 2:49 en Johannes 2:16). Terwyl Jesus nie in die tempel was nie, was die heerlikheid van God egter ook nie daarin nie.
Dit maak Pinksterdag so merkwaardig! Handelinge 2:3 vertel dat tonge, asof van vuur, aan die gelowiges verskyn het en op elkeen van hulle neergedaal het. Die Heilige Gees is oor hulle uitgestort. Hemel (die Gees) en aarde (mense) skuif oormekaar. In sy brief aan die Efesiërs skryf Paulus: “In Hom verrys die hele gebou, goed saamgevoeg, tot ‘n heilige tempel in die Here. In Hom word julle ook saam opgebou tot woonplek van God deur die Gees.” (Efesiërs 2:21-22).
Voorlopig is die gelowiges God se tempel, God se adres hier op aarde, maar die tyd kom dat die ganse aarde weer God se tempel sal wees (Openbaring 21:22), omdat God by ons op die nuwe aarde kom woon. Dit is soos God dit van die begin af beplan het.