Gemeentekinders is nou teologiestudente en sê hul sê oor die kerk

Vier jongmense, drie manne en een meisie, wat in die gemeente grootgeword het, studeer tans teologie aan die Universiteit van Stellenbosch.  Stellenberger het die drie manne gepols oor hoe generasie Z (gebore vanaf die jaar 2000) se konsep van kerk en Christen-wees lyk.  Ons sal in ’n volgende uitgawe die skonere geslag se mening weergee.

Tiaan Brand is ’n splinternuwe eerstejaarstudent.  Stellenberger gesels met hom oor hoe sy lewensreis hom tot by teologiese studies gelei het. 

Het kategese in Stellenberg-gemeente ’n indruk op jou gemaak?   Dit het definitief ’n invloed op my gehad, alhoewel ek niks spesifieks kan uitsonder nie.   Die geleentheid om saam met my graadgroep te kon leer oor die Here, was vir my kosbaar.

Watter persoon of gebeurtenis het jou aangeraak om teologie te gaan studeer?  Ek kan nie een enkele persoon/gebeurtenis uitsonder nie.  Dit voel vir my meer asof God ’n verskeidenheid maniere en mense gebruik het om my uiteindelik die lig te laat sien, en te laat besef dat ek teologie moet studeer.

Is die kursus op die stadium soos jy dit voorgestel het, of is daar heelwat verrassings?   Sovêr is die kursus presies soos ek dit voorgestel het, en selfs beter.  Ons leer só baie interessante dinge en dit is ’n kreatiewe en fantastiese nuwe manier om God te beleef.  Dis asof jy God deur ’n akademiese lens leer ken.

Is die “kerk” en die kerk se leringe nog enigsens vir jou relevant?  Die kerk is steeds relevant.  Dit bly my geestelike huis waar my vriende en familie is.

Hoe ervaar jou medestudente die kerk van vandag?   Ek dink die kerk is vir baie van hulle ook ’n plek van veiligheid en ’n ruimte waar hulle God wil beleef.  Die meeste teologiestudente  is wel nog baie onseker oor die pligte en vereistes wat kerke van predikante verwag en aan hulle stel.

By watter gemeente skakel jy tans in en wat geniet jy daar?   Ek skakel by die NG kerk Parowvallei-Oos in.  Theo Swart is die leraar by die gemeente en hulle hoofwaarde is om almal in te sluit en welkom te laat voel.  Dít is vir my ’n ongelooflike mooi beginsel om in ons moderne samelewing aan die wêreld uit te dra.

Wat is vir jou die lekkerste en die slegste deel van die studentelewe?     Die lekkerste en slegste deel van die studentelewe is dieselfde.  Die onafhanklikheid wat ’n mens skielik beleef, is baie lekker, maar ek mis ook terselfdertyd die lewe van ’n skoolkind waar besluite namens jou geneem is.  Ek verlang ook gedurende die week huis toe, maar gelukkig is my gesin net ’n halfuur se ry weg.

Erick Zulch is ’n derdejaarstudent in teologie en reageer soos volg op Stellenberger se vrae:

Het kategese in Stellenberg-gemeente ’n indruk op jou gemaak? Ja, kategese veral tydens graad 10 en 11, het beslis ’n impak op my gehad.  Wanneer ek terugdink,  val dit my op dat ek nie baie van die inhoud onthou nie, maar wel die impak van die verhouding met my groepleier.  Verhoudings, veral verhoudings wat op eerlikheid en broosheid gegrond was, het my beslis die diepste geraak.

Watter persoon of gebeurtenis het jou aangeraak om teologie te gaan studeer?  My besluit om teologie te studeer is beïnvloed deur verskeie gebeurtenisse en mense. Verhoudings het veral op my lewe ’n impak gemaak en was grootliks die resultaat van my betrokkenheid by die gemeente se musiekbediening en die jeugband, Plofstof.  My betrokkenheid by musiek het my die geleentheid gebied om aan talle kampe en uitreike mee te doen en so het ek lief geraak vir die kerk en die kerk se mense.

Is die kursus op die stadium soos jy dit voorgestel het, of is daar heelwat verrassings? Ek het myself voorberei op heelwat ontnugterings.  Tydens teologiese opleiding is dit belangrik om te verstaan dat jy in ’n akademiese segment van godsdiens inbeweeg en dat dit ’n ander tipe denkwyse vereis.  Teologiese opleiding kan jou vinnig ver van die kerk of bediening laat voel omdat jy die wêreld van rasionele, logiese akademie betree.  Ek is egter oortuig dat teologiese opleiding noodsaaklik is vir iemand wat die bediening wil betree, maar dit hoef nie noodwendig net deur ’n universiteit aangebied te word nie.

 Is die kerk en die kerk se leringe nog enigsens vir jou generasie relevant?  My antwoord sou wees – ja en nee. Ek glo die universele kerk van Christus was, is en sal altyd relevant bly.  God se konstante, aktiewe werking in die wêreld getuig daarvan.  Die kerk moet egter myns insiens dinamies bly deur konstant te groei en te verander soos wat reeds oor die afgelope 50 jaar gebeur het.   Ek glo dat die kerk soos wat ons dit vandag ken, oor twintig jaar heeltemal anders daar gaan uitsien.  Die kerk soos ons dit nou ken, gaan waarskynlik irrelevant raak en daarom sal ons voortdurend moet aanpas.

Wat van die kerk irriteer jou medestudente?  Om blatant eerlik te wees – die kerk is steeds vir baie medestudente nog sinoniem met segregasie op grond van ras, sosio-ekonomiese status, taal, ens.  Die kerk moet juis hierdie kwessies in die samelewing uitdaag en omvorm, eerder as om dit te verteenwoordig.  Verder bied sekere kerke te min ruimte vir verskillende vorme van spiritualiteit aan.  Ek dink dit is een van die redes hoekom gelowiges dikwels na ’n ander kerk skuif.

Stellenberg-gemeente is egter myns insiens ’n kerk wat aan lidmate verskeie opsies vir die uitlewing van spiritualiteit bied.

Waarvan hou jou medestudente in die kerk?  Die feit dat die NG Kerk oor moeilike etiese kwessies soos homoseksualiteit en die kerk se hantering daarvan praat en worstel, gee vir ons hoop.   Ongeag die besluite wat rakende die gesprekke geneem word, is dit noodsaaklik dat daar oop en eerlike gesprekke daaromtrent gevoer word.

Wat is vir jou die lekkerste deel van die studentelewe?  Die vryheid van keuse is vir my die lekkerste deel van hierdie fase. My besluite bepaal waarmee ek besig is en dit kan beide skrikwekkend en opwindend wees! Die lang vakansies is natuurlik ook fantasties.

 

Christiaan de Klerk het vanjaar die universiteitslewe as eerstejaarstudent betree en gee sy vertolking van die kerk weer.

Het kategese ’n indruk op jou gemaak? Persoonlik het kategese nie ’n groot invloed op my groei as ’n Christen gehad nie.  Vir my persoonlik het kampe en uitreike, asook die mense rondom my, my geestelik gelei tot waar ek nou is.

 Watter persoon of gebeurtenis het jou geïnspireer om teologie te gaan studeer?  Mense wat my aangeraak het, was beslis di. Elzaan van der Westhuizen en Peter Kotze. My eerste uitreik na Beaufort-Wes saam met Elzaan en Peter, asook hulle mentorskap in die opvolgende jare, het my laat besef dat ek my lewe daaraan wil wy om ander mense te help en dat God die middelpunt van my lewe moet wees.

 Is die teologiese opleiding soos jy dit voorgestel het?  Ek het my bes gedoen om nie met vooropgestelde idees, of verwagtings universiteit toe te gaan nie, maar ek is verbaas hoe baie ek die klasse geniet.  Dit is heeltemal anders as waaraan ek gewoond was tydens skool en ek geniet die verandering.

Is die “kerk” en die kerk se leringe nog enigsens vir jou generasie relevant?  Definitief!  Myns insiens doen Stellenberg-gemeente baie moeite om relevante onderwerpe wat op jongmense se leefwêreld van toepassing is, te bespreek en jongmense word aangemoedig om insette te lewer.  Ek dink egter wel dat heelwat jongmense bloot nie meer die kerk as ’n prioriteit in hulle lewens beskou nie.

Wat irriteer jou mede-nie-teologiesestudente van die kerk?  Die kerkpolitiek en veral die politiek, of wedywering, tussen denominasies.

Waarvan hou jou medestudente in die kerk?  Die geleenthede wat kerke aanbied waar jongmense en ander gelowiges mekaar kan leer ken en saam groei, word positief ervaar.  In kontras met die vorige antwoord, hou jongmense ook van die verskille tussen kerke.  Dit is interessant om te sien hoe gelowiges van mekaar verskil, maar nog steeds dieselfde God dien en gehoorsaam kan wees aan Hom.

Dink jy kerke en gemeentes gaan finansieel oorleef in die moderne samelewing?  Die kerk sal myns insiens altyd oorleef.  Dit gaan moontlik net nie lyk soos wat ons dit nou ken nie.  Ek dink nie dit maak saak of ’n mens kerk hou in ’n gebou, onder ’n boom, of in ’n veld nie.  Ons belydenis sê immers dat ons glo in “die gemeenskap van die heiliges”.

 By watter gemeente skakel jy tans in – wat geniet jy daar?  Ek skakel steeds by Stellenberg-gemeente in. Ek geniet dit om kennisse van skooldae by die kerk te sien.  Ek mis dit egter om deur die week nie meer deel te wees van aktiwiteite soos Reach en Relevant nie.

Wat is die heel lekkerste ding van student wees?  Die klasse en die mense.  Ek geniet elke klas en die werk wat ons doen omdat ek ‘n passie het vir wat ons doen.  Die mense saam met wie ek studeer is van regoor Suid-Afrika en selfs van Namibië.  Ons almal is anders en verskil gereeld oor verskeie kwessies, maar ons het ’n gemeenskaplike doel en liefde vir God wat ons saambind.  Ons het in die afgelope paar weke soos ’n familie wat mekaar help en ondersteun, geword.