Matteus 6:25-30. “Daarom sê Ek vir julle: Moet julle nie bekommer oor julle lewe, oor wat julle moet eet of drink nie, of oor julle liggaam, oor wat julle moet aantrek nie. Is die lewe nie belangriker as kos en die liggaam as klere nie? 26Kyk na die wilde voëls: hulle saai nie en hulle oes nie en hulle maak nie in skure bymekaar nie; julle hemelse Vader sorg vir hulle. Is julle nie baie meer werd as hulle nie? 27Trouens, wie van julle kan deur hom te bekommer sy lewe met een enkele uur verleng? 28En wat bekommer julle julle oor klere? Let op hoe groei die veldlelies: hulle swoeg nie en hulle maak nie klere nie. 29Maar Ek sê vir julle: Selfs Salomo in al sy prag was nie geklee soos een van hulle nie. 30As God dan die gras van die veld, wat vandag nog daar is en môre verbrand word, so versier, hoeveel te meer sal Hy dan nie vir julle sorg nie, julle kleingelowiges?”
Ek dink nie Jesus het probeer om die goed wat ons bekommerd maak en wat ons in die nagte laat rondrol, af te maak as onbelangrik nie. Ek dink die punt wat Jesus wou maak is dat bekommernis meer is as net iets wat ons voel en ervaar. Bekommernis en angs, doen iets aan ons. Dit steel ons tyd en energie en laat ons die heel tyd rondom ons kyk, soveel so dat ons op die dinge wat reg voor ons is, mis. Ek dink ons kan soms so oorweldig word deur bekommernisse dat ons die goeie en mooi en vreugdevolle oomblikke mis.
Jesus herinner ons dat te midde van alles wat ons bekommerd maak – God vir ons sorg. Meestal in maniere wat ons nie altyd raaksien nie. Dalk wil jy vandag ’n oomblik neem en eerste na die sang van voëls luister, die geur van blomme ruik en op die wyse dan bewus raak van ’n God wat vir ons sorg en presies weet wat ons nodig het.