Gedagte vir die dag | Woensdag 9 Maart 2022

Dit is 9 Maart 2022.  Ons gaan vandag die tweede week van Lydenstyd binne, nadat ons verlede week by ds Philipp gehoor het waaroor dit in hierdie spesiale tyd in ons kerkprogram gaan.  Dit is ‘n tyd van diep refleksie, nadenke en selfondersoek.

Dit is ook ’n tyd van inkeer, gebed en selfontlediging. Op die manier, al is dit maar baie oppervlakkig, wil ons tog as volgelinge van Jesus met die lyding en opofferinge wat Hy op aarde gemaak het, identifiseer.

Ons wil hierdie komende week stil staan by die laaste sewe woorde van Jesus voordat aan die kruis op Golgota gesterf het.  Daar word ook verwys na sy sewe kruiswoorde . . . die laaste sinne, of kreuninge van Jesus nadat Hy gekruisig is. Ja, dit is meer as sinne of woorde, dit is ook pynvolle pleitgebede en uitroepe na Sy Vader. En uiteindelik waar Hy finaal in oorgawe uitroep dat dit volbring is.

Ons lees vanoggend dus saam uit Lukas:23 waar Jesus se eerste kruiswoorde aangeteken is. Lukas 23:33 en 34. “Toe hulle by die plek kom wat Kopbeen genoem word, het hulle hom daar saam met die misdadigers gekruisig. Een aan die linkerkant, en een aan die regterkant. Toe sê Jesus: “Vader vergeef hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie.” Aangrypende woorde van die Seun van God, wat as Seun tot Sy Vader bid nadat Hy gekruisig is. In my verbeelding sien ek hoe Jesus na almal om die kruis kyk en nadink oor die aantal ure  in Jerusalem waar Hy gespot is, gespoeg is, geslaan is en uiteindelik gekruisig is. Ons sou verwag dat Hy hier aan die kruis tot Sy vader sou uitroep: “Vernietig hulle Vader,  laat vuur uit die hemel op hul neerkom, oor dit wat hulle aan my, U seun doen.”

Maar dit is nie Jesus-taal nie, inteendeel – Hy kyk na hulle wat Hom aan hierdie hengse leiding onderwerp het en Hy bid vir hulle, pleit kreunend by Sy Vader met die woorde: “Vergewe hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie.” Dis die hoogtepunt van Jesus se bediening . . . ’n getuienis waaroor die kruis gaan – vergifnis. Dit is waarvoor Jesus na die aarde gekom het!  Nou word dit ’n realiteit  Maar sy pleitgebed gaan verder as net die omstanders, die kwaaddoeners en die teenstanders. Dit sluit ook skuldenaars van alle tye en oor die wêreld heen in wat verkeerd gedoen het en mekaar in oorloë vernietig het.  Wat Hom gespot en verag het, en wat tot in ons dag toe nog kwaad aan Sy skepping doen. Vir hulle pleit Hy ook, ook vir hulle wat gedurende die Lydenstyd by die oorlog in Oekraïne betrokke is . . . “Vader vergeef hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie”.

Laastens, sluit dit uiteraard ook elkeen van ons in – vir my en vir jou, waar ons ookal op ons lewensreis is.   Ook vir my en jou bid Hy hierdie woorde: “Vader vergeef hom, vergeef haar, want hulle weet nie wat hulle doen nie.”

Het jy vanoggend die behoefte om dit weer aan te gryp? Om weer net die bevestiging te hoor? Jou Verlosser aan die kruis, bid kreunend, pleitend ook vir jou ! Gryp dit weereens aan, en leef in die vreugde as ’n vergeefde mens.

Dankie Jesus vir hierdie eerste kruiswoorde.  Dankie, dat U ook vir my gebid het en steeds bid: “Vader, vergeef hulle, want hul weet nie weet hul doen nie!” Amen