Gedagte vir die dag | Woensdag 9 Februarie 2022

 

Welkom by Woensdag, 9 Februarie se oordenking vir die dag. Mag jy vanoggend ware rus vind in die teenwoordigheid van die Here.

Ek nooi jou graag uit om vir die volgende sewe dae saam te reis as ’n mede-pelgrim.

Pelgrimstogte het ontstaan in die tyd van die Ou-Testament. Die volk van Israel wat oor groot areas versprei was, was met gereelde tussenposes opgeroep na die Tempel in Jerusalem om ’n verskeidenheid van feeste by te woon.  Ondermeer die Paasfees.  Op pad daarheen het hulle dan liedere gesing.  Hierdie liedere is toe daarna in die Psalms opgeteken en ons vind dit vanaf Psalm 120 tot 134.  Daar word hierna verwys as die pelgrims Psalms. ’n Pelgrimstog of reis het in die lig van die Ou Testamentiese gebruik altyd ’n geestelike komponent en einddoel gehad.

So vir die volgende sewe dae reis ons saam in hierdie uitgesoekte Psalms wat as Pelgrimsliedere bekend staan.  Kom ons wandel vandag saam met Psalm 121:

“Ek kyk op na die berge: Waar sal my hulp vandaan kom? My hulp is van die Here, wat hemel en aarde gemaak het. Hy sal nie toelaat dat jou voet struikel nie; jou Beskermer sal nie insluimer nie. Kyk, die Beskermer van Israel sluimer nie in nie en Hy slaap nie. Die Here is jou Beskermer; die Here is jou skaduwee aan jou regterhand. Bedags sal die son jou nie skaad nie, en snags ook nie die maan nie. Die Here sal jou beskerm teen elke onheil; Hy sal jou lewe beskerm. Die Here sal jou uitgaan en jou terugkeer beskerm van nou af en vir altyd.”

Refleksie:

Watter emosie het die teks by jou losgemaak?

  • Skep dit opsies?
  • Bring dit hoop?
  • Maak dit vry?
  • Daag dit jou uit?
  • Gee dit rigting?

Gebed:

Ek kyk op na die berge op my pelgrimstog, my lewenspad: waarvandaan sal daar vir my hulp kom?  Ek kyk in die geloof oor die berge, Here, na U wat hemel en aarde gemaak het.  Van U kom my hulp: ek sal nie struikel nie.  U beskerm my, U wat nooit insluimer of slaap nie.  U beskerm my teen alle gevare, U beskerm my bedags sowel as snags.  U beskerm my waar ek ook gaan, nou en vir altyd.

Amen.