Gedagte vir die dag | Woensdag 14 Julie 2021

Filippense 4:4: “Wees altyd bly in die Here! Ek herhaal: Wees bly!”

“Neerdrukkende tye! Min rede tot vreugde en blydskap”

“Covid-19 beroof ons van baie dinge”, hoor ek iemand sê, maar veral van vreugde en blydskap.  Dit blyk asof ons vreugde- en blydskapsvlakke baie, baie nadelig getref is deur die aanhoudende, verwoestende pandemie!

Maar, ter gelyke tyd is dit ook ’n baie ideale geleentheid om te vra: “Maar wat is dit dan nou wat eintlik ons vreugdevlakke bepaal . . . wat ons werklike blydskap gee?”

Ons kom baie gou agter dat ware blydskap en vreugde nie in fisiese goed gesetel is nie, maar in verhoudings.

Vreugde en blydskap is amper sinoniem met ons verhouding met die Here!  Dit is die vreugdevolle oorloop van ’n dankbare hart!  Die Bybel loop oor van tekste waarin vreugde en blydskap aangemoedig en geaksentueer word.  Sulke blydskap en vreugde is die logiese reaksie op die genade en die liefdevolle handelinge van ons Hemelse Vader.

Ons het vanoggend gelees uit Filippense 4.  Een van die bekendste tekste in Paulus se briewe, waar hy die gelowiges aanmoedig tot uitbundige vreugde en blydskap: “Verbly julle in die Here, ek herhaal, verbly julle.”

Ons weet ook dat hierdie brief onder moeilike omstandighede geskryf is (in die tronk), en staan dan ook bekend as Paulus se vreugdesbrief, aangesien die begrip van vreugde en blydskap telkemale na vore kom.)

Ons gaan in die komende paar dae ’n bietjie by vreugde en blydskap stil staan.  En ons wil onsself kom evalueer oor hoe diep en innig is ons vreugdesvlakke op hierdie stadium.  Kom ons stel onsself weer oop om dit te ondersoek, en indien nodig, terug te keer na hierdie aanmoediging van Paulus in Filippense 4:4.

Gebed

Here, help my om verby al die neerdrukkende dinge rondom my te kyk, en om weer my ware vreugde in my verhouding met U te vind.

Amen.