Romeine 12:16-18. “Wees eensgesind onder mekaar. Moenie hooghartig wees nie, maar skaar julle by die nederiges. Moenie eiewys wees nie. Moenie kwaad met kwaad vergeld nie. Wees goedgesind teenoor alle mense. As dit moontlik is, sover dit van julle afhang, leef in vrede met alle mense.”
Ons grootste uitdagings in die lewe het altyd met die vashaak, of botsing met ander mense te doen. Ons is so dikwels haaks met iemand en soms word strydbyle nooit begrawe nie. Die Here ontken nie hierdie realiteit nie, maar vra dat ons nuut daarna kyk en dit anders hanteer. Maak vrede met die feit dat ons wel as gevolg van omstandighede met mekaar bots, maar kom in die ritme om eerder oplossings te vind as om probleme te soek. Paulus help ons op ’n eenvoudige en praktiese wyse daarmee wanneer hy ons vra om nie in sulke situasies jou hart bo die van ander te verhef nie. Sien die persoon met wie jy vashaak deur Jesus se oë as iemand met ’n hart soos jou eie en beleef hoe dit wedersyds die wonder om oplossings te soek aan die gang sit.
Gebed
Here, U wat hierdie mense liefhet wat ek nie kan verdra nie, U wat die harte verstaan van hulle wat ek nie kan begryp nie, U wat die innerlike worsteling van hulle ken wat ek ignoreer, U wat die goeie motief sien in mense se optrede wat ek as skynheilig beskou – open tog my oë en hart. U ken my beter as wat ek myself ken; U het my liewer as wat ek myself het … Here! Leer my liefhê met U liefde.