Genesis 1:31. VERWONDERING.
Toe het God gekyk na alles wat Hy gemaak het, en dit was baie goed. Dit het aand geword en dit het môre geword. Dit was die sesde dag.
Sonder om te huiwer bely ons dat God die skepper van die hemel en aarde is. Ons sing en bid hierdie belydenis elke week met vrymoedigheid. Dat God alles goed geskep het, kom egter dikwels as ‘n nagedagte by ons op. Dit het groot implikasies vir die manier waarop ons vandag in hierdie wêreld leef. In ons eie gemeente (Stellenberg) se belydenis is dit ons strewe om inklusief met die liefde van God oor alle grense uit te reik. Dit beteken dat ons voortdurend onder die indruk leef dat God altyd op ’n veel groter manier in sy skepping werksaam is en dat hierdie liefde ons inspireer om oor grense te kan leef. Ons gemeentebelydenis gaan selfs ’n stap verder deur ons te verbind om vir alle vorme van lewe om te gee. Hoe spreek hierdie belydenis vandag tot jou? Veral in ag geneem dat wanneer ons oor die skepping uitkyk daar soveel sleg is, waarin ons daagliks vaskyk. In Romeine 3:23 praat Paulus met ons oor die insig dat ons almal sondig/gebroke is, maar sonder dat ons dit verdien op grond van God se genade vergifnis en genesing ontvang. Dit is dikwels eers wanneer hierdie verlossing op ’n persoonlike wyse tot ons deurdring dat ons perspektief opnuut oopgaan vir God se goedheid teenoor die res van die skepping.
Gebed
Hemelse Vader, red my van myself, hierdie ligsinnige self wat so oppervlakkig na u skepping kyk en dit beoordeel. Hierdie verwaande self wat my so slim kan hou oor hoe u skeppingswerk verloop, die baasspelerige self wat u skepping manipuleer, hierdie hebsugtige self wat u skepping uitbuit, hierdie lui self wat nie die lewe in u skepping bewerk nie. Breek met hierdie lenteseisoen tot my deur – dat U groter is as wat ek dink en glo. Leer my ‘n waardering vir alles wat U met sorg geskep het. Help my om verby die gebrokenheid daarvan, wat my gedagtes oorheers, te kyk en in verwondering te leef oor die potensiaal van nuwe lewe wat daaruit kan bot.