Gedagte vir die dag | Woensdag 6 Oktober 2021

Matteus 1:22-23: Dit het alles gebeur sodat die woord wat die Here deur sy profeet gesê het, vervul sou word: “Die maagd sal swanger word en ‘n Seun in die wêreld bring, en hulle sal Hom Immanuel noem.” Die naam beteken God by ons.

Gedagte: “Ek is met jou!”

Dit bly waarskynlik een van die wonderlikste beloftes wat ons as mense in alle omstandighede kan hoor.  Dit kan vir my as ’n klein kindjie baie betekenis hê om te weet pappa of mamma is baie naby aan my, en loop die pad saam met my. Veral in tye van gevaar.  Ek het met ’n vorige dagstukkie al verwys hoe ek as klein seuntjie, elke aand geroep het dat my pa by my moet kom lê.  Dit was eers as hy stelling langs my inneem op my bedjie, dat ek rustig kon raak en dat ek kans gesien het vir die donker nag wat voorlê.

Elkeen van ons het sulke stories, elkeen van ons het sulke behoeftes, of ’n mens klein of groot is, of dalk al iewers in die lewe is waar ek oud geword het? Dit is een van ons mees basiese behoeftes.

God ken hierdie behoeftes van ons, baie beter as enige ander behoefte. Daarom kom bied Hy Hom aan in hierdie verband. Dit raak een van sy grootste beloftes in die Bybel, dat Hy saam met ons en by ons sal wees. Dit is iets waarna ons kan gryp, en aan kan vashou, ook as die nagte donker geword het, en as alleenheid en desperaatheid soos ’n vloedgolf oor my kom spoel het. Iewers is daar ’n sterk hand! Iewers is daar iemand wat groter is as mamma en pappa, wat langs my kon kom inkruip in my nood.

Dit is ook daarom dat God Sy Seun gestuur het om Immanuel te kom wees – God met ons.

As ons aan Jesus dink, dink ons aan ’n God wat ons behoeftes ken, en wat daaraan kom aandag gee deur sy geliefde Seun, Jesus Christus, wat in ons wêreld inkom, in my eie wêreld om by ons te kom wees. Ons wil die volgende paar dae bietjie hieroor nadink en ’n paar tekste in die  Bybel met mekaar deel.

Het jy spesifiek ook vandag behoefte daaraan? Om weereens te besef en te ervaar dat iemand wat groter as ek en al my omstandighede is, by my is, naby my is en nader aan my is as my eie skaduwee. Gryp vandag na hierdie grootste belofte van jou hemelse Vader.

Gebed: Here, dankie dat U in Jesus Christus, Immanuel vir my geword het. Ek hou daaraan vas met my geloof en vertroue in U. Amen.