Rut 1:1 1In die tyd van die leiers was daar op ‘n keer hongersnood in die land, en ‘n man met sy vrou en sy twee seuns het uit Betlehem in Juda weggetrek om ‘n heenkome te soek in die gebied van Moab.
GEDAGTE
In die Bybel sal jy ’n boek met die naam Rut kry. Watter plesier is dié pragtige kortverhaal van Rut nie.
Dit is ’n verhaal oor ’n gesin wat gelewe het in die dae toe Israel rigters gehad het. Dit is aan die een kant ‘n uitsonderlike liefdesverhaal geplaas binne ‘n ontvouende intrige tussen Naomi, Rut, en Boas teen die agtergrond van Naomi se emigrasie na Moab weens droogte en Rut se immigrasie saam met haar terug na Israel nadat sy ’n weduwee geraak het.
Die verhaal van Naomi en Elimelek begin in Betlehem tydens ’n hongersnood. Om sy familie te red, is die enigste opsie vir Elimelek om oorkant die Jordaan, in die land van ’n vyandige volk te gaan bly. So het dit gekom dat Naomi en Elimelek en hulle twee seuns, Maglon en Kiljon, vir 10 jaar gelukkig in Moab gewoon het. Die seuns het groot geword en hulle het elkeen met Moabitiese meisies, Rut en Orpa getrou. Maar dan gebeur die hartseer – eers sterf Elimelek en dan sy een seun en daarna die ander seun ook. Dit laat die drie vroue sonder sorg en in ’n baie benarde posisie. En daar is Naomi alleen in ’n vreemde land. En dan besluit sy dat dit die beste vir haar sal wees om terug te gaan Bethlehem toe waar daar nog ’n stukkie grond was wat aan haar behoort het en waarop sy dan in haar bejaardheid ’n nuwe lewe kon begin.
Ons lewens is ook nie altyd maklik nie. Daar is baie uitdagings. Hierdie week gaan die petrolprys weer op en dan kan ons verwag dat kospryse ook sekerlik sal styg. Hoe oorleef jy? Daar is net een antwoord en dit is om vas te hou aan die Here. Net soos Hy vir Rut en Naomi versorg het en deur hulle krisisse gelei het sal Hy vir ons ook lei en versorg. Ja die lewe is nie altyd maklik nie, maar ons het ’n Here waaraan ons kan vashou.
GEBED
Hemelse God en Vader ek plaas my hoop op U. Stap saam met my deur die lewe.
Amen