Gedagte vir die dag | Woensdag 6 Januarie 2021

Jesaja 41:13.  “Ek is die Here jou God, Ek vat jou hand, Ek sê vir jou: Moenie bang wees nie, Ék help jou.”

Daar is ’n bekende gedig waarin iemand van ’n droom vertel. Hy het in sy droom met ’n lae gety op die strand, langs die see gestap. Maar hy was nie alleen nie, want die Here was saam met hom daar in sy droom. Saam het hulle deur die lewe gegaan, twee rye voetspore het agter hulle in die sand gelê. Wanneer die man toe na ‘n lang ruk gaan stil staan en agter hom kyk, sien hy sy hele lewenspad wat agter hom lê. Tye van geluk en blydskap, maar ook tye van hartseer en swaarkry.  Maar dan kom hy agter dat daar op sy lewensbaan juis in die moeilikste hartseertye net een ry spore in die sand lê. Dit pla hom en hy vra vir die Here: “U het dan belowe om my nooit te begewe en my nooit te verlaat nie”. Ek verstaan dit nie: Ek het U partymaal baie nodig gehad. “Hoekom lê dáár dan juis net een ry spore op my pad?” Die antwoord van die HERE is: “Moet jy dit regtig vir My vra? Want in die swaar tye het Ek jou gedra!  Daarom is daar net een ry spore.”

In dié gedig is dit ‘n droom. Maar volgens God se Woord is dit die werklikheid. God dra ons regtig deur die lewe. Hy dra ons ook nie net deur die swaarste gedeeltes nie. Nee, van dag tot dag en van oomblik tot oomblik – dra Hy ons.

Dit is ook die belofte van vandag se teks. Weet dat die Here ook in 2021 by jou is en jou hand sal vat en jou sal help. Daarom hoef jy nie bang te wees nie.

 

GEBED

Here ek weet dat U my gevorm het, dat U my geskep het.

Ek weet dat ek aan U behoort, dat U my naam ken.

Ek weet ook dat U daar is as ek in nood is:

as ek deur water of vuur moet gaan,

want U is die Heilige van Israel, U is God die Redder.

Daarom Here, is ek nie bang nie, daarom glo ek soos ‘n kind dat U my Here is.

Ek is veilig, veilig in die Here.

As ek bang is in gevaar weet ek God is altyd daar.

Ek is veilig, veilig in die Here.

As dit donker is om my weet ek God is naby my.

Die Here is ’n rots en ’n skild vir my

’n huis en ’n skuilplek waar ek veilig kan bly.

Aan U die eer. Amen