Gedagte vir die dag | Woensdag 5 Oktober

Lukas 17:11-19.  “Op sy reis na Jerusalem toe het Jesus al met die grens tussen Samaria en Galilea langs gegaan. 12Net toe Hy ‘n sekere dorpie wou binnegaan, kom tien melaatse mans Hom tegemoet, maar hulle bly op ‘n afstand staan 13en roep hard: “Jesus, Here, ontferm U oor ons!”14Toe Hy hulle sien, sê Hy: “Gaan wys julle vir die priesters.” Op pad daarheen het hulle gesond geword. 15En een van hulle het, toe hy sien dat hy genees is, omgedraai en God hardop geprys. 16Hy het voor die voete van Jesus neergeval en Hom gedank. Hierdie man was ‘n Samaritaan. 17Toe sê Jesus: “Was daar nie tien wat gesond gemaak is nie? Waar is die ander nege dan? 18Is daar niemand anders wat omgedraai het om God die eer te gee behalwe hierdie man wat nie eers ‘n Jood is nie?” 19En vir hom sê Hy: “Staan op en gaan huis toe. Jou geloof het jou gered.”

Die melaatse mans in hierdie storie het geweet hoe dit is om in die skaduwee te lewe. In ’n niemands-land en ’n tussen-in spasie. Want soos dit die gebruik was, moes hulle hulle afstand hou van mense.  Hulle moes in isolasie leef en oral waar hulle sou gaan aankondig dat hulle onrein is, sodat almal weet, wie en wat hulle is. So wanneer Jesus hulle genees, genees Hy nie net hulle liggame nie, Hy herstel ook hulle identiteit, en neem hulle terug na dit wat dit beteken om werklik ’n mens te wees. Om deel te wees van ’n familie, ’n gemeenskap en nabyheid en intimiteit te ervaar.

Die genesing van hulle liggame stel hulle instaat om weer te voel, om te omarm en self omarm te word. Jesus tree toe tot hierdie niemands-land toe, ’n land van geen tuiste en nooi hulle terug huis toe. As ons vanuit hierdie hoek na die storie kyk is die tiende man se reaksie meer as net dankbaarheid vir genesing. Dis ook ’n dieper uitdrukking van behoort. Lukas vertel dat die tiende melaatse man, ’n Samaritaan was. Iemand wat nie net gemarginaliseerd was omdat hy siek was nie, maar boonop ook omdat hy deel was van ’n groep mense wat deur die Jode verafsku en uitgestoot is. Sy andersheid help hom om dit te sien wat die ander nie kon nie. Hy kon sien dat sy identiteit, sy ware plek van tuiste,  aan die voete van Jesus lê. Hy kon sien dat Jesus se arms wyd genoeg is om alles rakende hom te omarm: melaatsheid, vreemdeling, verstoteling, maar uiteindelik ook geliefde kind van God.

Mag jy ook tuis kom in die wye arms van Jesus.