Psalm 139:1-2. “Here, U sien dwarsdeur my, U ken my. Of ek sit en of ek opstaan, U weet dit, U ken my gedagtes nog voor hulle by my opkom.”
Soveel gedagtes en emosies spoel deur die loop van ’n gewone dag deur ons. Ons is nie eers altyd bewus daarvan nie. Daar is dinge wat ons irriteer, pla en bekommerd maak en wat snags in ons drome opduik en ons sleg laat slaap. Wat ’n wonderlike gedagte dat die Here deur ons sien en dat ons as te ware deur Sy oë anders na onsself kan kyk.
Albert Einstein het op ’n dag gesê: “You can’t solve a problem with the same mind that created it”. Dit is juis die uitdaging wat ons vandag moet aanspreek. Ons kan dikwels nie ons gedrag verander kry nie omdat ons nie nuut daarna, of na onsself en die situarie kyk nie.
Wat is die kwessies wat jy in hierdie dag in jou gedagtes probeer uitsorteer? Laat die Here toe om deur sy oë en vanuit sy gedagtes na jou omstandighede te kyk. Hoe maak dit die dag wat op jou wag anders? Wat lê die Here op jou hart om daaraan te doen?
Gebed
Here, dankie dat ek in hierdie oomblik vrede en rus kan vind in die wete dat U deur my sien. Dankie dat U sag kyk na my sondes, oortredinge en donker gedagtes wat ek in die geheim bewaar. Help my om nuut na die dinge wat bedags en snags in my spook te kyk sodat ek ook nuut na ander mense kan kyk. Gee my ook vandag ’n nuwe perspektief oor hoe ek dit self anders kan maak.
Amen.