Jesaja 41:10. 10Moenie bang wees nie, want Ek is by jou. Moenie ontsteld word nie, want Ek is jou God. Ek maak jou sterk en wil jou help. Ek laat jou oorwin met my regterhand wat mense red.
In Jesaja 41 lees ons hoe die Woord van die Here na sy volk gekom het toe hulle moedeloos, bang en angstig was. Die volk van Israel was in ballingskap toe hulle hierdie woorde gehoor het. Hulle het alles verloor – hulle huise, besittings, beroepe, en moes ook van hulle geliefdes aan die dood afstaan. Die toekoms was vir hulle donker. Hulle het geen hoop gehad nie. Vir baie van hulle was die ballingskap boonop ’n geloofskrisis. Hoe kon dit tog gebeur? Was hulle dan nie die uitverkore volk van God nie? Het die Here dan vergeet van sy beloftes? Was die Babiloniese gode dan magtiger as die Here? Is God saam met die tempel verwoes? Waar is Hy dan?
Midde in hierdie mismoedige, ja, byna troostelose omstandighede, hoor hulle die bekende stem van God wat vir hulle sê: “Ek is die Here jou God” (Jes. 41:13). Ek is jóú God. In Jes. 41:10 hoor hulle, “moenie bang wees nie, Ek is by jou”, woorde wat dwarsdeur die Bybel weerklink. Deur dik en dun, was, is, en sal die Here altyd by sy kinders wees. Van die begin af was dit so. So was die Here by Abraham oral waar hy rondgetrek het. So was die Here by Moses van sy geboorte tot by sy dood. Soos ’n goue draad loop die belofte van die teenwoordigheid van die Here deur die hele Ou Testament. En in die Nuwe Testament lees ons dat Jesus, Immanuel, God by en met ons, is. Hy het self beloof dat Hy tot die voleinding van die wêreld altyd by sy kinders sal wees (Matt. 28:20). Hieraan mag ons nie twyfel nie. God is by ons ook in 2022.
GEBED
Ons Vader en ons God, waar ons aan die begin van die nuwe jaar staan en die toekoms in die gesig staar, bely ons ons behoefte aan u teenwoordigheid en leiding.
Ons het elkeen dinge waarop ons hoop en verwagtinge vir die jaar wat voorlê, maar U alleen weet wat die jaar vir ons sal inhou, en net U kan ons die krag en die wysheid skenk wat ons nodig het om die uitdagings die hoof te bied. Help ons om in hierdie komende jaar in nederigheid ons hand in u hand te plaas, om U te vertrou en u wil vir ons lewens te soek.
Amen