Gedagte vir die dag | Woensdag 4 Oktober 2023

Die volgende paar dae is dit my voorreg om saam met jou te kuier. Ons gaan deur ’n paar Bybelverhale wandel. Jy sal hulle almal onthou uit jou kinderdae of jy sal hulle onthou soos jy dit vir jou kinders gelees het.

 Lees Genesis 37: Die verhaal van Josef

Teks: Genesis 37:8

Toe sê sy broers vir hom: “Jy verbeel jou jy sal oor ons koning word. Dink jy dalk jy sal oor ons regeer?” Oor sy drome en sy praatjies het hulle ‘n nog groter afkeer van hom gekry.

GEDAGTE

Die verhaal van Josef klink na so ‘n gewone verhaal, ‘n storie oor ‘n witbroodjie, ‘n bedorwe brokke, ‘n jong seun wat graag by sy pa klik oor sy broers en dan gestuur word om hulle te gaan dophou en weer vir pa te gaan rapporteer.

Uit die groter Josefverhaal weet ons dat God reeds begin het om deur die bedorwe brokke te werk. Die drome is eintlik die eerste roetemerkers van die groot uitkoms wat God later deur Josef sou bereik. God het sy oog op die toekoms en God begin die slegte verhoudinge binne Jakob se gesin gebruik om vorentoe op ‘n verstommende manier uitkoms vir die volk te bring. Met ander woorde – al gebeur al hierdie slegte dinge is God steeds besig om die groter storie, waarvan Josef deel is, te skryf.

Wanneer ons verhale nie van die aanwesigheid van God getuig nie, wanneer ons God nie eers in die prentjie bring nie, beteken dit nie God is afwesig nie. God is altyd daar. God het Sy oog op die langtermyn. God is besig om deur mense en verhoudinge en ons mislukkings aan God se heerlike doel te werk. Ons kan op hierdie God met alles wat ons is en het vertrou. Ons kan na hierdie God bly draai en hom bly dien. Net soos in die geval van Josef se verhaal is God besig om jou verhaal ook te skryf. Al voel dit nou vir jou asof jou verhaal sleg en uitdagend is, weet dat God nie die pen neergesit het nie en dat hy steeds skryf. Jou storie sal ook soos Josef se verhaal in oorwinning uitloop.

GEBED

Neem my in beskerming, Here my God.

By U soek ek skuiling, Herder en Heer.

Ek behoort aan U – net U kan my seën.

Heer, U is my lewe, U sorg vir my.

Dit wat ek ontvang het, dit kom van U.

Dit wat U my gee, is so mooi vir my.

By U voel ek veilig; U maak my bly.

Uit u hand kom als wat goed is vir my.

Amen