Gedagte vir die dag | Woensdag 4 Januarie 2023

Matteus 5:13. Julle is die sout vir die aarde. Maar as sout verslaan het, hoe kry ‘n mens dit weer sout? Dit is niks meer werd nie. Dit word buitekant weggegooi, en mense vertrap dit. Julle is die lig vir die wêreld. ‘n Stad wat op die berg lê, kan nie weggesteek word nie. 

 Die periode na Kersfees word Epifanie genoem. Epifanie beteken lig en gaan oor hoe die  Here se verskyning in die wêreld ’n verskil in ons lewens kom maak. Dit is juis waaroor die Here in die volgende paar oggende met ons praat as ons na uittreksels van Jesus se bergrede in Matteus gaan luister. In hierdie reeks gesprekke praat Jesus met gelowiges wat mismoedig gevoel het oor ’n wêreld wat deur politieke en militêre mag van invloedryke mense beheer is. In hierdie einste wêreld was sout dié belangrikste kommoditeit. Dit was selfs van meer waarde as goud en oral in aanvraag. Wanneer Jesus dan aan die begin van die bergrede met mense wat opsigself geen waarde of status in die samelewing gehad het nie praat, sê Hy vir hulle dat hulle lewensbestaan goud, of dan eerder sout werd is. Die res van die bergrede waarby ons in die volgende dagstukkies gaan uitkom praat dan verder baie prakties oor  hoe ons deur woorde en dade aan die lewe betekenis kan toevoeg. Vandag dus net eers hierdie wesenlike gedagte. Jou lewe maak in hierdie tyd en omstandighede vir die Here saak.  Dit is kosbaar omdat die Here deur jou aan die lewe smaak gee. Moet dus nie toelaat dat negatiewe sentimente wat vandag in jou leef oor die dinge wat in jou, jou gesin, familie of samelewing gebeur, dié waarheid in jou laat laf word nie.

Gebed

Here, niemand van ons weet wat hierdie jaar vir ons voorlê nie. Wat ons wel weet is dat die pas van die lewe binnekort gaan optel as ons weer moet terug keer werk toe en nog ’n jaar  met nuwe planne en idees moet begin. Bring in my ’n perspektief vir dit wat wesenlik is. Dat my lewe die grootste verskil kan maak daar waar ek myself in U eie menswees raaksien. Ek bid dat dit my in hierdie dag sal inspireer waar die lewe op allerhande plekke besig is om my lig vir die wêreld te demp. AMEN