Efesiërs 1:5. Ons is in Christus geseën met al die seëninge van die Gees wat daar in die hemel is. So het Hy nog, voordat die wêreld geskep is, ons in Christus uitverkies om heilig en onberispelik voor Hom te wees.
Ek het die afgelope week weer na ons familie se stamboom gekyk. Dit laat ’n mens nadink oor die magdom mense wie se name daar staan wie jy nie ken nie, maar wie se lewensverhale tog op ’n manier nou met joune verwant is. Dit laat jou skielik anders kyk na die waarde van jou en jou familie se eie lewens vir die geslagte wat weer gaan terugkyk na jou naam. Vanoggend se teks wil ons laat verstaan dat ons lewens nie toevallig is nie en iewers in ’n groot en belangrike geheel inpas wat ons nie aldag kan sien nie. Die groot geheimenis kry wel vir ons betekenis wanneer ons onder die indruk kom hoe ons deur God se Gees in hierdie lewe geseën is. Word vandag hiervan bewus – jou lewe maak vir die Here saak en is deel van ‘n belangrike groter geheel. Laat die gedagte jou inspireer om nie net toevallig te lewe nie, maar met ’n gefokusde intensie om waarde aan die Here se skepping toe te voeg.
GEBED
Here, hier aan die einde van die jaar wonder ons weer oor alles wat ons deur die jaar gesê en gedoen het. Dit voel soos elke jaar hierdie tyd of die lewe net te vinnig by ons verbygaan. Gee ons vandag ’n diep indruk van die betekenis van ons hier wees. Wanneer ek na die jaar wat verby is terugkyk, help my juis om die seën daarin raak te sien en nie net te verval in die moegheid wat die jaar omwens nie. Dankie vir elke geleentheid en die plek vandag om geïnspireer te word vir die onbekende van die toekoms wat op my wag.
AMEN.