Hebreërs 13:7-8. “Dink aan julle voorgangers wat die woord van God aan julle verkondig het. Let op hulle lewenswandel tot die einde toe, en volg die voorbeeld van geloof wat hulle gestel het. Jesus Christus is gister en vandag dieselfde en tot in ewigheid.”
Hierdie teks vat my ver terug na vakansies toe ons by Oupa en Ouma gekuier het. Daar was altyd vaste roetines. Ouma wat soggens deeg knie vir beskuit, middae se kaartspeel en saans se boekevat wanneer Oupa uit die Bybel lees. Ek het nie veel van wat Oupa uit die Bybel gelees het verstaan nie, maar wel besef dat hulle toewyding om uit die Bybel te lees baie te doen gehad het met die besondere mense wat hulle was. Dieselfde Here wat hulle geïnspireer het, is vandag by ons en die mense wat die Here aan ons gegee het speel hierin ’n belangrike rol. Neem vandag die tyd om vir die Here dankie te sê vir mense wat ’n besondere rol in jou eie lewe gespeel het en wie se geloof jou eie lewe gevorm het.
Gebed
Here, as ek stil raak en my dierbares voor U kom noem, spoel so baie herinneringe deur my. Dankie vir hulle wat nie meer daar is nie, maar wat my lewe so spesiaal gemaak het. Dankie dat ek hulle gedagtenis kan eer en in hulle lewe u teenwoordigheid kon herken. Dankie dat hulle my liefgehad en gedra het. Amen.