Gedagte vir die dag | Woensdag 3 Maart 2021

Matteus 25:75.  “En op daardie oomblik het daar ‘n haan gekraai. Toe val dit Petrus by wat Jesus gesê het: ‘Voordat die haan kraai, sal jy My drie maal verloën.’ En hy het buitentoe gegaan en bitterlik gehuil.”

Toe Jesus saam met sy apostels in die bokamer was, het hy vir hulle gesê: “Julle almal sal my vanaand verlaat.” Petrus het dadelik gesê: “Nie ek nie! Selfs al verlaat die ander u, sal ek u nooit verlaat nie.”  Maar Jesus het vir Petrus gesê: “Voordat ’n haan kraai, sal jy drie keer sê dat jy my nie ken nie.”

Toe die soldate Jesus na Kajafas se huis toe neem, het die meeste van die apostels weg gehardloop. Maar twee van hulle het hom saam met ’n groep mense gevolg en een van hulle was Petrus. Hy het in die binnehof van Kajafas se huis in gegaan en by die vuur gaan staan. ’n Diensmeisie het Petrus se gesig in die lig gesien en gesê: “Ek ken jou! Jy was saam met Jesus!”

Petrus het geantwoord: “Nee, ek was nie! Ek weet nie waarvan jy praat nie!”  Hy het na die hek toe geloop. Maar nie lank daarna nie het ’n ander diensmeisie hom gesien en ook vir die mense gesê: “Hierdie man was saam met Jesus!”  Petrus het weer gesê: “Ek ken Jesus dan nie eens nie!”  ’n Man sê toe:” Jy is een van hulle! Ek kan uit jou manier van praat hoor dat jy van Galilea afkom, nes Jesus.”  Maar Petrus het gesweer: “Ek ken hom nie!”

Op daardie oomblik het ’n haan gekraai. Petrus het gesien hoe Jesus omdraai en na hom kyk. Toe onthou hy wat Jesus gesê het. Hy het toe buitentoe gegaan en bitterlik gehuil.

Die goeie nuus is dat Jesus ook vir hierdie sonde gesterf het. Om die waarheid te sê vir alle sondes. Dit is hoe groot sy liefde vir sondaars is. Hy het aan die kruis gesterwe om ons elkeen van ons sondes te red, ook van ons sondes rakende die verloëning van Hom. Ons is veilig, nie in ons eie krag of trou nie, maar in Hom. So wil hy ons maak tot mense wat sy naam bely – nie verloën nie.

GEBED

“Ons God en Vader, lei ons uit ’n lewe van doodsheid na die Lewe.

Lei ons uit valsheid na die waarheid.

Lei ons uit vertwyfeling na ’n bestaan vol hoop – van vrees na vertroue, van haat na liefde, van stryd na vrede.

Ag, Here, laat u vrede ons harte vul, en so ook ons wêreld, en uiteindelik die heelal”

AMEN