Gedagte vir die dag | Woensdag 3 Februarie 2021

Jesaja 40:31.  maar dié wat op die Here vertrou, kry nuwe krag.  Hulle vlieg met arendsvlerke, hulle hardloop en word nie moeg nie, hulle loop en raak nie afgemat nie.

Ek is seker dat nie een van ons nog nooit moedeloos, of teleurgesteld gevoel het nie.  Elkeen van ons was al moedeloos en teleurgesteld.   ’n Mens weet ook dat jy in sulke omstandighede met die Here worstel en dat vrae gevra word en dat selfs verwyte later geslinger word.  Die feit van die saak is: Die lewe verloop nie altyd soos ek en jy  dit graag wil hê nie.   Ons beland soms in  situasies wat ons glad nie kan hanteer nie en daar gebeur dinge wat ons in ons wildste drome glad nie kon voorsien nie.

In Jesaja se tyd was die volk van die Here ook onder geweldige druk.  Die Babiloniërs was  ʼn wesenlike gevaar en besig om die strop al stewiger om die Judeërs se nek te trek.  Die druk was so aanhoudend deur Nebukadneser en sy leërmag toegepas dat die volk moedeloos geraak het en gevoel het dat die Here hulle verwerp het.  Luister net na die volk van die Here se worsteling in die tyd van die profeet Jesaja: Die Here sien nie raak wat van my word nie, my reg gaan by my God verby (vers 27).

Dan volg hierdie bemoedigende woorde in vers 31:  Die wat op die Here vertrou kry nuwe krag.  Aan die wat op die Here vertrou, belowe Hy “nuwe krag” – te midde van die swaar en vermoeiende lewe!  Om hierdie “nuwe krag” te verduidelik, gebruik die profeet drie beelde:

Eerstens: “hulle vlieg met arendsvlerke . . . ”

Tweedens:  “hulle hardloop en word nie moeg nie . . .”

Derdens: “hulle loop en raak nie afgemat nie . . . ”

As jy vandag moeg en afgemat is, begin op die regte plek – by God! Dan sal jy die teenwoordigheid van sy Gees in jou lewe ervaar, wat jou met vertroue, moed en uitsig op die toekoms vul! Ja, dan sal ek en jy weer “kan sweef soos ’n arend”, hardloop en nie moeg word nie, loop en nie afgemat raak nie!

GEBED

Here ek is op die stadium moedeloos. Die lewe is uitdagend en ek is sommer net nie meer lus nie.  Skenk my asseblief ook die krag en moed om voort te gaan.

Amen.