Filippense 4:1: “Daarom, my broers, moet julle vas staan en getrou bly aan die Here”.
Dit is vandag 29 Desember 2021. Hierdie baie interessante, uitdagende jaar is vinnig besig om uit te loop en as ons klaarmaak met die jaar dan is daar verskeie emosies by ons. Dit is so veral omdat ons steeds in die kake van ’n vreemde, wrede virus is wat ’n klomp aspekte van ons menswees en ons land se bestaan bedreig. Baie van ons voel ons moet net klaar kry met hierdie jaar! Ander mense het weer ander emosies, miskien hartseer oor verliese wat gely is, miskien vreugdes wat beleef is. Hoe dit ookal sy, ons staan aan die vooraand van ’n splinternuwe jaar wat waarskynlik ook met baie uitdagings na ons kant toe gaan kom.
Dit is net noodsaaklik om bewus te wees van hoe ons dink oor die volgende jaar, 2022 wat eersdaags aanbreek. Gaan ons die jaar tegemoet met ongelooflike onsekerhede, angs, en vrees? Of is daar dalk ander emosies: hoop waaroor ons die afgelope paar maande so baie gesels het, ook hier in Stellenberg? Miskien ‘n optimistiese uitkyk en verwagting dat dit net beter kan gaan! Dat daar vir ons baie vreugde en voorspoed in die nuwe jaar sal wees.
In die volgende paar dae wil ek graag stilstaan by een hoofstuk in Filippense, die bekende en geliefde hoofstuk 4. Dis ’n ongelooflike brief van Paulus en ons weet wat sy omstandighede was waaruit hy geskryf het . . . iewers in ’n tronk. In hoofstuk 4 sien ons baie pertinente gesigte en gestaltes van hoop, vreugde en van optimisme by hierdie gevangene, Paulus. Dit word die blydskapsbrief van Paulus genoem, en nie sonder rede nie, want Paulus was heeltyd in die direkte teenwoordigheid van Jesus Christus. Ongeag sy omstandighede, was dit sy dryfveer en sy bron van sy hoop en vreugde.
Ons teksvers vandag is ‘n aanmoediging vir mense vir wie hy hier geskryf het, maar ook vir ons, Suid-Afrikaners en gemeentelede wat gereed maak vir ‘n nuwe jaar. Kom ons gryp die boodskap en hou daaraan vas: “Daarom (omdat ons Jesus Christus as Verlosser verwag en Sy teenwoordigheid in ons lewe ’n realiteit is) moet julle vasstaan en getrou bly aan die Here.” Kom ons gaan 2022 binne met hierdie oproep om op grond van ons identiteit as volgelinge van Jesus Christus, getrou te bly aan Hom, getrou aan sy woord, vas te hou aan sy beloftes. Dat ons daarom sal vasstaan en ons nie sal laat terugdruk deur enige vorm van uitdagings wat voor ons mag wees nie.
Gebed: Here baie dankie vir hierdie jaar waarin ons so baie kon leer. Vir baie van ons was dit ’n moeilike jaar, maar tog ’n jaar van u bystand, en van vreugde. Seën ons in hierdie laaste dae van hierdie Godgegewe jaar en laat ons onsself in geloof sal oriënteer vir die jaar 2022 wat eersdaags aanbreek. Amen