Gedagte vir die dag | Woensdag 28 September 2022

Psalm 16:11.  U leer my hoe om te lewe. By U is daar oorvloedige blydskap. Uit u hand kom net wat mooi is.

Refleksie

Psalm 16 is ’n besondere Psalm van vertroue. Vroeër in die Psalm getuig die digter dat die afgode in die land aantreklik is vir baie, maar dat die digter van die Psalm niks met hulle te doen wil hê nie. Is dit nie dikwels hoe dit ook lyk in ons lewens nie? Dat die dinge wat so aantreklik lyk, ons dikwels op verkeerde paaie lei en dat die pad wat na die lewe lei, soms nie so aantreklik lyk nie. Waar sien jy rondom jou, of in jou eie lewe raak dat iets wat aanvanklik aantreklik lyk, mense op ’n verkeerde pad lei?

In vers 11 getuig die digter: “Uit u hand kom net wat mooi is.” Dit is maklik om hierdie Psalm te bely wanneer dinge met ons goed gaan, maar ons weet dat daar ook dinge oor ons pad kom wat nie mooi is nie. Die lewe is vol moeilike en swaar tye. Tog is dit juis in sulke tye wat ons saam met Psalm 16 kan bely, “uit u hand kom net wat mooi is.” Om dit te bely, is nie om die realiteit van die gebrokenheid van die lewe te ontken nie, maar om vas te hou aan die geloof dat die Here selfs in die donkerste tye, iets mooi kan laat uitspruit.

Dalk is jy in ’n tyd waar jy net die mooi van die lewe ervaar. Dank die Here vandag daarvoor. Dalk is jy in ’n tyd waar dit voel of alles wat mooi is uit jou lewe verdwyn. Vra die Here om jou die moed te gee om aan te hou vertrou en dat Hy jou sal help om die mooi raak te sien, selfs in die donkerste tye.

Gebed

Here, leer my hoe om te lewe. Leer my om in alle omstandighede bly te wees. Leer my om die mooi wat uit U hand kom raak te sien. Help my dan om die mooi van die lewe ook vir ander uit te wys.

Amen