Gedagte vir die dag | Woensdag 27 April 2022

Vandag is Woensdag 27 April en ons gaan die volgende sewe dae deur middel van ’n #StaanSaam-reeks reflekteer oor wat dit beteken om aan mekaar te behoort.  Vandag vier ons Vryheidsdag en vandag is ons tema: Deel Hoop.

Hoop verlos ons telkens van ons blindheid. Dis om elke oggend ’n bril op te sit en met nuwe oë na die wêreld te kyk. Hoop maak ons oë oop en laat ons verder sien en dit gee ons insig tot ons situasies waar dit dalk nou donker mag voel. Dit is hierdie lewende hoop wat gelowiges van die res van die wêreld onderskei. God nooi jou om jou vertroue in Hom te plaas en om in Hom vas te kyk en oorval te word met die wete dat God jou nooit sal verlaat nie. Selfs al sit jy binne die donkerste van donker, dit is wat hoop is. Ons wandel vandag in 1 Petrus 1:3-5 wat die volgende sê:

“Aan God die Vader van ons Here Jesus Christus, kom al die lof toe! In sy groot ontferming het Hy ons die nuwe lewe geskenk deur die opstanding van Jesus Christus uit die dood. Nou het ons ’n lewende hoop op die onverganklike, onbesmette en onverwelklike erfenis wat in die hemel ook vir julle in bewaring gehou word. En omdat julle glo, word ook julle deur die krag van God veilig bewaar vir die saligheid wat reeds gereed is om aan die einde van die tyd geopenbaar te word.”

Hierdie hoop is ’n vaste en lewende hoop, omdat Jesus lewend is, omdat Hy die bron, die inhoud en die uiteinde van hoop is. ’n Mens sou selfs kon sê dat dit die kernboodskap van die Bybel is. Daar is hoegenaamd geen lewe, geen toekoms en geen hoop sonder Christus moontlik nie. Dit is iets wat ons lewens vashou. Dit is ’n gawe van God wat Hy keer op keer aan ons skenk, binne elke krisis en oomblik van wanhoop. En die wonder is – Sy ontferming is elke oggend nuut. Hy gee die hoop weer en weer aan ons! Dit is die wonder van hoop. Dit is wat Christelike hoop beteken. Dit is nie hoopvolle krag wat jou trane onmiddelik laat opdroog nie, maar wat dit vir jou afvee. Dit word nie van iemand ontvang wat jou pyn laat verby gaan en dit ontken nie, maar wat saam met jou daar deur gaan. Staan vandag saam en deel hoop, want jy is vrygemaak.

Bak en brou vandag iets in jou huis, selfs al is dit net lekker beskuit of smaaklike koekies. Eet en proe die smaak van hoop wat lewe. Eet en geniet! Staan saam en deel hoop.