Filippense 4:7 Wees oor niks besorg nie, maar laat julle begeertes in alles deur gebed en smeking met danksegging bekend word by God. En die vrede van God, wat alle verstand te bowe gaan, sal oor julle harte en gedagtes die wag hou in Christus Jesus.
Die teksgedeelte praat met iets wat ons reeds weet. Dit is dat God ons help met ons sorge, maar dit vra van ons ‘n spesifieke ingesteldheid, of anders gestel ‘n andersoortige ritme. Almal van ons loop met gedagtes en behoeftes wat ons bekommerd maak en wat ons daagliks met ander mense deel. As jy oor iets ongelukkig is, het jy die geleentheid om by iemand daaroor te kla, of dan net ten minste by iemand wat in die posisie is om iets daaraan te doen stoom af te blaas. Maar dit bring ons nie altyd uit by die vrede waaroor vandag se teks met ons praat nie. Dit bly ‘n uitdaging om ons lewensritmes aan te pas tot dit waartoe die teks ons aanmoedig. Om nie ons gedagtes te fokus op mense of instansies nie, maar om ruimtes en tyd te skep waar ons alles voor die Here kan neerlê sodat ons in daardie ruimte God se vrede kan ervaar en sodoende die res van die dag met vrede ingaan. Hoe lyk hierdie ruimte en tyd in jou lewe? As dit nie daar is nie, skuif ander dinge opsy om eenvoudig dit te doen wat ons teks ons leer.
Gebed
Here, daar is so baie goed waaroor ek vandag kan kla en wat my ongelukkig maak. Ek bring dit so dikwels eerder na ander mense toe en rig dan ‘n appèl dat hulle dit moet verander. Dit gee my dikwels nie die rus en vrede in my gemoed nie. Dankie dat ek vandag my grootste vrede, uitdagings en probleme na U toe kan bring en by U daaroor ‘n vrede kan beleef.
Amen