Die volgende paar dae gaan ons by ‘n paar vroue van die Bybel kuier. Kom reis saam met my en hoor wat die Here ook deur hulle verhale vir ons wil leer.
Teks: Joshua 2: 12-13 12“Ek het julle goed behandel. Lê dan nou vir my ‘n eed voor die Here af dat julle my familie ook goed sal behandel, en gee my ‘n betroubare aanduiding 13dat julle my pa en ma, my broers en susters en almal wat by hulle hoort, se lewens sal spaar en ons so van die dood sal red.”
GEDAGTE
Ragab was ’n prostituut. Sy het in ’n heidense Kanaanitiese kultuur van Jerigo met al sy afgode aanbidding groot geword. Tog het sy verhale gehoor van ’n volk wie se God hulle met magtige wonderwerke uit Egipte bevry het. Toe Ragab gehoor het van die magtige dade wat God vir Israel gedoen het, is daar ’n saadjie van geloof in haar geplant. Dit was dan ook hierdie einste volk wat haar stad sou oorneem. Sy speel ’n sleutelrol toe Josua die verkenners instuur om die stad te verken. Ragab gee aan die verkenners beskerming toe hulle die land inkom om dit te verken. Sy het geweet dat die God van die Jode die enigste ware God is en dat Hy ook hierdie stad in hulle hande sou oorgee. As gevolg van haar getrouheid aan God se volk, beloof hulle om haar te beskerm as hulle die stad aanval. Om aanspraak op hierdie beskerming te maak, moes sy ’n rooi tou by haar venster uithang waar sy die verkenners laat uitglip het. Tydens die inval word Ragab en almal wat in haar huis is, se lewens gespaar.
Ragab word drie keer in die Nuwe Testament genoem. Elke keer in verband met haar geloof. Watter soort geloof is reddende geloof? Dit is geloof wat nie slegs op intellektuele instemming berus nie. Jakobus noem aan ons dat geloof in God tog moet oorgaan in goeie werke. Ragab het deur haar optrede bewys dat sy werklik glo in God. Ons staan slegs uit genade voor God, maar God roep ons om deur hierdie genade goed te doen aan ander. God wil hê ons geloof moet vrug dra in ons lewens.
GEBED
Hemelse God en Vader my geloof is dikwels so klein. Help my om te groei in my geloof.
Amen