BELANGRIKE KENNISGEWING AANGAANDE DAGSTUKKIES VIR DIE VOLGENDE SEWE DAE.
Ek vind baie seën uit Stephan Joubert se kort rubrieke in die Beeld-koerant. Ek het dit goedgedink om met sy toestemming, wat hy wel verleen het, van hierdie stukkies oor die volgende paar dae met lesers te deel. Ek kies steeds die teksgedeeltes en skryf die gebed. Ek glo dit sal vir julle ook tot groot seën wees. Why Duvenhage.
Luk 5:31: “Toe antwoord Jesus hulle: “Die wat gesond is, het nie ’n dokter nodig nie, maar die wat siek is. Ek het nie gekom om mense wat op die regte weg is, tot bekering te roep nie, maar sondaars”
Jesus het nie ’n handspuitbotteltjie uit die hemel saamgebring nie!
In die tyd toe Jesus op aarde was, het die godsdienstige leiers alles en almal gekategoriseer. Daar was rein kos en onrein kos. Daar was heilige dae en gewone dae. Daar was gewyde grond en onrein grond. O ja, en dan was daar heilige mense en onrein mense.
Die onreines was mense met sekere siektetoestande soos melaatsheid. Hulle kon nie in sinagoges of in die tempel ingaan nie. Sondaars soos tollenaars, sekswerkers en diewe was ook onrein. Ander volksgroepe ook. Geen godsdienstige sou ooit saam met sulke onreines eet, of in hulle huise kuier nie. Hulle “sonde-toestand” was hoogs aansteeklik. Hulle was nie “onse mense” nie.
Jesus het Hom net mooi niks aan hierdie reinheidsreëls gesteur nie. Of aan enige godsdienstige saniteerdery nie. Hy het sy “wet wipes” in die hemel vergeet. Nee wag, Jesus het nooit eens ’n handspuit nodig gehad om Homself te isoleer van “aansteeklike” mense nie. Hy het aan melaatses geraak. Hy het saam met sondaars geëet. Lukas 15:1-2 vertel ook dat sondaars en tollenaars graag na Jesus kom luister het. Al was die godsdienstige leiers woedend hieroor, was Jesus se hart en lewe wawyd oop vir enigeen en almal. Hy sien mense raak wat misgekyk en oorgekyk word.
Gewone mense, reines, onreines – almal is binne sy vriendskapsvisier. Kom ons leer by Jesus. Kom ons gooi daardie godsdienstige handspuite weg wat ons isoleer van Jesus se soort vriende. Kom ons laat staan ons eie klassifikasies van mense en wees net daar vir mekaar in sy Naam. (S Joubert)
Gebed: Here, help ons, om diegene op wie ons so maklik neersien, soos U te sien. Dankie, dat U vir sondaars soos ek na hierdie aarde gekom het. Amen.