Handelinge 3:19. “Daarom, bekeer julle en kom tot inkeer. Dan sal God julle sondes uitwis.”
Een van die slaggate van geloof waarin ons maklik trap, is wanneer ons God se genade voorwaardelik tot dit wat ons doen of nalaat om te doen, maak. Dit is dan ook dikwels hoe ons hierdie teksvers van vandag lees en verstaan. Volgens dié vertolking word dit wat God kan doen beperk tot die wyse waarop mense daarop reageer. Die goeie nuus van die Evangelie is egter dat God se liefde en sorg ook geld ten spyte van ons gebreke, sonde en hardkoppigheid. Ervaar dus die troos van die teks wat getuig van die Here se getrouheid in jou lewe en neem dan die vrymoedigheid om vandag met spesifieke kwessies in jou lewe na Hom te kom. Wat is die dinge wat in jou lewe skeefgeloop het? Noem dit vir die Here, bely dit voor Hom en hou vas aan die belofte van sy vergifnis.
Gebed
Bly by my Heer, U wat nie verander nie, al is niks anders in hierdie lewe konstant nie. Die jare snel verby, die lentetyd word herfs, die skadu’s word al langer. Help my om elke uur, elke dag, met oorwinning te lewe. Verlos my, in die Naam van Jesus Christus, Oorwinnaar oor die dood.
Amen.