Markus 6:31 “Daar was baie mense wat gedurig gekom en gegaan het, sodat Jesus en sy dissipels selfs nie kans gehad het om iets te eet nie. Hy sê toe vir hulle: “Kom julle alleen saam na ‘n stil plek toe en rus ‘n bietjie.”
Ons lewe vandag teen ’n vinnige tempo en onder geweldige druk. Ons weet soms dat ons ons lewenspas stadiger moet maak, maar weet dikwels nie hoe om dit te doen nie. Daar is eenvoudig nie tyd om behoorlik stiltetyd te hou nie, of om die skoonheid van die natuur te bewonder en waardeer nie. Ons skeep ons kinders en ons vriende af, want ons is net altyd besig. Ons jaag deur die lewe en loop alles wat mooi en waardevol is, mis. Ons gees en liggaam het van tyd tot tyd rus nodig. Dit is in oomblikke van stilte en afsondering dat ons gees weer herstel word.
Jesus het besef dat die belangrike taak om die Koninkryk van God uit te brei, ’n geweldige tol van sy dissiples geëis het en dat hulle rus nodig het. Om hierdie rede het hy hulle bymekaar geroep om vir ’n ruk hulle werk opsy te skuif en eers saam met Hom te rus.
God skep met rede die sewende dag as ‘n rusdag. Nie dat Hy noodwendig rus nodig gehad het nie, maar Hy het geweet ons het. Om gebalanseerd te lewe moet daar tye van rus wees. Rus van dit wat ons elke dag doen, wat dit ook al is, maar ook tye van refleksie oor ons lewe en oor God. Sonder hierdie tye word ons soos rotte op ‘n wiel, ons hardloop al hoe vinniger maar kom nêrens nie. God het vir ons elke week so ‘n dag gegee, kom ons gebruik dit vir dié doel waarvoor dit gegee is en tot ons eie welwese.
GEBED
Hemelse God en Vader ek jaag so deur die lewe. Ek weet ek het oomblikke van rus nodig. Oomblikke om by U stil te kan word. Skenk dit asseblief vir my.
Amen