Gedagte vir die dag | Woensdag 23 Februarie 2022

 

Johannes 10:10Ek het gekom sodat julle die lewe kan hê, en dit in oorvloed. Ek is die goeie herder.

Hoeveel keer moes jy al in jou lewe op pak en verhuis om elders ’n nuwe fase van jou lewe te begin.  Alhoewel ons in ’n leeftyd net ’n paar maal hoef te verhuis, bring die lewe ons voortdurend voor nuwe lewensfases waar jy iets van die bekende moet prysgee en die onbekende van die toekoms in moet reis.  As jy nog jonk is klink hierdie tipe verandering lekker en opwindend, maar saam met die ouderdom raak dit al moeiliker.  Vir sommige mense vul die blote gedagte van ’n onbekende toekoms hulle met angs en vrees. Ons vind sekuriteit in die bekende en wil nie toelaat dat iets ons roetine, perspektiewe, of denke kom deurmekaar krap nie.

Vanoggend herinner die teksgedeelte in Johannes ons dat ons in elke nuwe tuiste en fase van die lewe oorvloed in die lewe kan geniet. Dit is waartoe die Here ons lei. In watter plek of fase van die lewe bevind jy jouself? Jou tuiste vandag is dat die Here jou herder is. Mag Hy jou vandag in die onbekende, by plekke en mense bring wat nuwe betekenis gee.

Gebed

Here, ek gaan hierdie dag baie broos in. Daar is geen manier om te weet hoe dit gaan verloop en wat oor my pad gaan kom nie. Ek kyk dikwels vas in my vrese en frustrasies. Elke dag is vol daarvan en dit vul my gedagtes, gesprekke en dag. Lei my vandag Here om in hierdie dag die oorvloed lewe te kan beleef wat U belowe. Verander my perspektiewe oor die plekke en mense wat ek vandag gaan besoek. Laat my tuiskom in die onbekende wat vandag op my wag.