Gedagte vir die dag | Woensdag 29 Junie 2022

 

Vandag is Woensdag, 29 Junie en ons gaan die volgende sewe dae nadink oor die vrug van die Gees en hoe dit juis gestalte kan vind tydens hierdie Pinkstertyd wat oorbeweeg in die Koninkrykstyd waarbinne ons in die kerklike jaar leef.

Wat is die vrug van die Gees? Die vrug van die Gees is ’n term wat die apostel Paulus gebruik om nege sigbare eienskappe van ’n ware Christelike lewe op te som. Dit is liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing soos Galasiërs 5:22 dit vir ons uitwys. Ons gaan in hierdie volgende paar dae net by ’n paar van die bogenoemde eienskappe stil staan.

Let ook daarop dat dit nie individuele ‘vrugte’ is waarvan ons kan kies en keur nie, maar een negevoudige vrug wat ’n fisiese omvatting van ’n Christen se veranderde lewe is. Dit is Christus wat in ons woon en ons verander. Die vraag is: Hoe kan ek meer van die vrug van die Gees wys?

Ek nooi jou graag uit om vir die volgende sewe dae, ’n tydjie in ’n dag eenkant te sit om na te dink oor ’n kenmerk van die vrug van die Gees. Let op na jou refleksies en eindig met ’n gebed waarmee jy vir God vra om jou te verander sodat jy daardie kenmerk in jou lewe uitleef.

Gebed:
Here my Here, berei my hart voor vir hierdie volgende week se reis. Kom vorm my en maak my net soos U wil.

Amen.