Gedagte vir die dag | Woensdag 22 Desember 2021

 

Teks Matteus 1:18-25

Wanneer Matteus die eerste keer van Josef praat, vertel hy dat hy ’n man was “wat die wet van Moses gevolg het”.  Matteus sê dit nie in soveel woorde nie,  maar ’n mens kan aflei dat Josef ’n man was wat altyd die regte ding wou doen, wat nie golwe gemaak het en nie gehou het van kontroversie nie. ’n Man wat soos baie van ons net ’n normale ongekompliseerde lewe wou hê.

Sy hele lewe is omgekeer toe hy hoor sy verloofde is swanger en dis nie sy kind nie.  Ek dink dit sou verkeerd wees om die moeilikheidsgraad van die besluit wat Josef moes neem, te onderskat. Los hy vir Maria, of bly hy gehoorsaam aan hierdie droom.  Matteus brei nie vreeslik hierop uit nie, maar soos met enige moeilike besluit in die lewe, kon dit nie vir Josef maklik wees nie.  Wat God van hom gevra het, was om alles wat Josef gedink het reg, goed en heilig was, op te gee en ’n vrou lief te hê wie se storie hy nie geken het nie, en ’n kind te beskerm van wie hy nie die pa was nie.

Geen wonder Gabriël se eerste woorde aan Josef was ”Moenie bang wees nie”.  As ons in God se storie wil intree, ’n storie was soms deurmekaar en morsig is, moet ons ook mekaar aan hierdie woorde herinner. Moenie bang wees, as God se werk in ons lewens anders is en lyk as wat ons verwag het nie.  Moenie bang wees as God van ons vra om ons voorveronderstellings op te gee en om iets nuut te sien wat God vir ons wil wys nie. Moenie bang wees om iets, of iemand lief te hê, wat so anders is as wat ons is nie. Moenie bang wees vir dit wat broos, weerloos of onmoontlik is nie. Moenie bang wees vir die deurmekaarheid van die lewe nie, want dis in die morsigheid van lewe wat God gebore is.