Ek het dit goed gedink om in die volgende paar dae se dagstukkies ’n paar kort spreuke met julle te deel. Vandag se teksgedeelte kom uit Spreuke 12:10 en praat met ons oor die “seisoen van die skepping” wat ons in September wêreldwyd saam met gelowiges vier. Hoe wyd en omvangryk God se sorg is en hoe dit ons aanspoor om vir alle vorme van lewe om te gee.
Spreuke 12:10. “Die regverdige sorg goed vir sy diere, maar die goddelose is wreed.”
Ons is baie lief vir ons huisdiere. Ons gee hulle name en hulle word deel van ons gesinne. Dit is daarom nie vreemd om vandag te hoor dat ons goed na hulle moet omsien nie. Maar die teksgedeelte praat nie primêr oor huisdiere nie. Dit gaan waarskynlik in die teks oor die massas diere wat in die Bybelse tyd aangehou is wat hulle op een of ander manier van kos moes voorsien. Die teks praat dus met ons oor ’n respek en bedagsaamheid teenoor alles in God se skepping. Ons kan dus nie net wreed teenoor mense optree nie, maar tree ook wreed op wanneer ons onbedagsaam in God se skepping leef. Neem vandag tyd en dink oor God se seën wat ons in sy skepping beleef en hoe dit ons aanspoor om vir alle vorme van lewe om te gee.
Gebed
Here, help ons om vandag te begryp hoe ver, hoog, wyd en diep u liefde en sorg strek. Alhoewel dit ’n liefde is wat ons verstand te bowe gaan kan ons die seën daarvan op eenvoudige maniere in u skepping beleef. Help my vandag om dit raak te sien en nie te verdwaal in die vrese, kommer en frustrasies wat my in hierdie dag kom oorweldig nie.
AMEN.