Gedagte vir die dag | Woensdag 21 Oktober 2020

Psalm 37:5: “Laat jou hele lewe aan die Here oor, want as jy op Hom vertrou, sal Hy vir jou sorg”.

In die verre Ooste is daar ’n Chinese bamboesplant wat ’n seldsame saad dra.  Wanneer ’n mens die saadjie plant, gereeld natgooi en versorg dan is daar na ’n jaar nog geen teken van ontkieming nie. Ook nie na die tweede, die derde of  die vierde jaar nadat die saad geplant is nie.  Dan in die vyfde jaar na die saadjie geplant is, steek die bamboesplant sy kop bo die grond uit en groei binne ’n tydperk van  vyf weke tot ’n hoogte van 30m. Vyf jaar klink na ’n baie lang tyd vir ons haastige Wersterlinge, want dis juis ons gejaagdheid wat van ons sulke deurmekaar, verwarde mense maak.

Ek dink die inperkingstyd het vir my persoonlik ook ’n ander perspektief op die lewe gegee en my genoodsaak om ’n ander ritme,  of pas te ontwikkel, maar die gevaar is so groot dat ons weer sommer maklik in ons ou patrone sal verval.

Solank as wat ons deur die lewe jaag, soos mense wat op vlug is, sal geluk beslis buite ons bereik bly.  Geluk is nie soos ’n pragtige voël wat jy moet volg en in die hande moet kry nie. Nee, geluk sit op jou skouer as ek en jy dit maar net wil raaksien.

So jaag die mens maklik van sy kinderdae agter geluk aan en sê telkens vir homself: “As ek eers op skool is, of as ek eendag werk, of as ek getroud is, of as ek eendag kinders het, as ek hierdie of daardie plek het, of as ek maar net daardie vakansie bestemming kan bereik of dit of dat kan doen . . . en dan later, as ek eendag afgetree is . . . en so vlieg die jare verby, terwyl ons geluk na jaag.  Intussen bereik die ouderdom ons en bring pyne en skete mee tot op ’n dag wat ’n mens eensklaps besef – my lewe is verby!

In Psalm 37 het Dawid sy vinger op die antwoord gelê toe hy geskryf het: “Vertrou liewer op die Here en doen wat goed is, woon en werk rustig voort. Vind jou vreugde in die Here en Hy sal jou gee wat jou hart begeer. En dan die gedeelte waarmee ons begin het: “Laat jou lewe aan die Here oor en vertrou op Hom. Hy sal sorg” in vers 3 tot 5.

Vertroue en geduld loop hand aan hand. Die saad wat ’n ouer saai in die opvoeding van sy kind, sluimer soms vir jare onder die grond en mens kyk rond en jy wonder, en raak ongeduldig want die saadjie wil nie ontkiem nie, jy het natgegooi en aangedra en jy het ingebou en mooi na die saadjie gekyk. En dan eendag, sonder dat jy dit verwag, of voorsien, of dink dit kan nie meer gebeur nie (jy het al moed opgegee) dan skiet dit op en dra vrug.

En die liefde is geduldig sê 1 Korintiërs 13, daarom moet ons ophou om kitsresultate en  kitsoplossings en ook kitsgeluk te soek.  Dit kom met die tyd, dit word opgebou.  Kom ons hou op met jaag en gee die Here ’n kans om Sy doel met elkeen van ons lewens te bereik, al neem dit soms vyf jaar en langer om te ontkiem soos die vreemde bamboessaad uit die Ooste.

Gebed

Here, laat ons onthou dat u tyd, nie ons tyd is nie. Dat U ’n plan en ’n doel met elkeen van ons se lewens het. Met onsself, met die van die kinders, met hulle wat vir ons lief is en aan ons gebind is. Wil U, U doel met elkeen van ons bereik en gee ons ’n perspektief van geduld en van lankmoedigheid. Help ons om die groter prentjie, U prentjie te sien. Amen.