Lukas 8:24-25. Toe staan Hy op en bestraf die wind en die golwe. 25Hulle het bedaar, en daar het stilte gekom. Toe sê Jesus vir hulle: “Waar is julle geloof dan?” Maar hulle was verskrik en verbaas en het vir mekaar gesê: “Wie is Hy tog? Hy gee bevele aan wind en water, en hulle is aan Hom gehoorsaam!”
GEDAGTE
Mense wat getrou die pad met Jesus stap beland dikwels in krisisse, lewensgevaar of doodloopstrate. Tog ontdek hulle ook dat Jesus by hulle is. Tussen vrees en dikwels deur pyn, word hulle met hoop en vrede vervul, wetende dat Jesus die laaste woord het, en oor alles in hemel en op aarde regeer.
Ek was al ’n paar keer in my lewe in sulke omstandighede. Die winde van probleme huil in jou ore en dit sweep die water op in sulke hoë golwe dat ’n mens bang raak. Eers probeer jy alles in jou vermoë om op jou eie daaruit te kom, maar naderhand gooi jy tot die roei spaan weg, want alles lyk so hopeloos. Die woeste winde steel ons geloof en dit veroorsaak dat ons wil weghardloop, maar waarheen? Die boot is besig om vol water te loop en daar is nêrens om heen te gaan nie. Verder hoor God oënskynlik nie ons noodgebede nie, of sien Hy ons nie vandag raak nie? Miskien slaap God vandag?
Maar vandag kan ons weer hoor: Ons glo in ’n almagtige God. ’n God wat baie groter is as ons storms. Met een sagte woordjie kan God die see om jou rustend en kalm maak. God slaap nie en Hy sal nie toelaat dat jy sink nie. Hy kán en sál die storms stil maak. Ons moet net glo dat Hy dit kan en sal doen. Ja, ook oor jóú storm. Glo dit net!
GEBED
Hemelse God en Vader. Dankie dat U steeds vandag by ons betrokke is in ons lewens. Ja ook tydens storms is U by ons. Help my asseblief deur hierdie storm wat ek tans beleef. Amen