Jesaja 41:10. 10Moenie bang wees nie, Ek is by jou, moenie bekommerd wees nie, Ek is jou God. Ek versterk jou, Ek help jou, Ek hou jou vas, met my eie hand red Ek jou.
Ek wil vandag met julle gesels oor bekommernisse. Die slim mense sê dat 99% van al die dinge waarvoor ons bang, of bekommerd is uiteindelik nooit gebeur nie! Kom ons kyk na wat die Bybel hieroor sê.
In Jesaja 41:10 sê die Here vir ons: “Wees nie bevrees nie, want Ek is met jou; kyk nie angstig rond nie, want Ek is jou God. Ek versterk jou, ook help Ek jou, ook ondersteun Ek jou met my reddende regterhand.”
Met Israel so lank in ballingskap, het hulle al begin glo dat God hulle vergeet het. Die omstandighede was nie altyd maklik nie. So is dit in vandag se lewe ook, want baie ervaar dieselfde gevoel van verlatenheid wanneer ons deur donker dieptes van benoudheid moet gaan; dan pak vrees en angs die mens toe.
God gee ons daardie versekering dat Hy met ons is, dat Hy ons nooit sal begewe of verlaat nie. In sy teenwoordigheid is ons veilig, daarom hoef Israel nie te vrees nie, want dit was juis die doel om Israel hierdeur bewus te maak dat te midde van ballingskap, God hulle hand neem en hulle met sy reddende regterhand ondersteun.
Waarom vrees ons dan? As Kinders van God is die Here met ons elke minuut van elke dag! Die Bybel gee ons hierdie versekering in die laasgenoemde vers! Daar is regtig niks om voor bang te wees nie! Niks waardeur God ons nie kan lei nie!
GEBED
Here ek is op die stadium moedeloos. Die lewe is uitdagend en ek is sommer net nie meer lus hiervoor nie. Skenk my asseblief ook die krag en moed om voort te gaan.
AMEN