Kolosense 1:15
Vir die volgende week gaan ons tyd in Kolossense 1 deurbring. In Kolossense 1:15 lees ons: Die Seun is die beeld van God, van God wat self nie gesien kan word nie. Die Seun is die Eerste, verhewe bo die hele skepping.
Refleksie
Hierdie gedeelte openbaar vir ons iets van die verhouding tussen God en die Seun. Ons sien dat God hierdie onsigbare misterie is, buite ons sintuie, groter as wat ons kan beleef of verstaan. Tog word ons in ons lewe op verskillende maniere bewus van die misterie van God. Hoe beleef jy die misterie van God in jou lewe?
Soms kan ons wonder hoe ons ooit vir God kan ken, as ons Hom nie met ons sintuie kan beleef nie. Maar dan sien ons dat God sigbaar word, tasbaar word in die Seun – die Seun is die beeld van God, wat deel word van die skepping om God sigbaar te maak. As ons wonder wie God is, hoe God se karakter lyk, hoef ons net te kyk na hoe Jesus hier tussen ons geleef het. Wat beteken dit vir jou dat God bereid was om mens te word, sodat ons Hom kan ken?
Christus word hier as die beeld van God beskryf. Dit is dieselfde woorde wat in Genesis 1 gebruik word om die mensdom te beskryf. Wat waar is vir Christus, is ook waar vir ons. Maar ons sien ook dat die Seun die eerste is, verhewe bo die hele skepping. Christus is vir ons die voorbeeld van wat dit beteken om die beeld van God te wees.
So vandag wil ek jou uitnooi om bewus te word van die onsigbare misterie van God rondom ons. Word bewus van hoe ons God leer ken en hoe God sigbaar word in Christus. Word bewus van hoe jy ingenooi word om ook God se beeld te wees en hoe God ook in jou lewe sigbaar word.
Gebed
Here, U is soveel groter as wat ons ons ooit kan verstaan of beleef. Die werke van U hande bly ’n misterie wat ons al hoe meer ontdek. Dankie dat U sigbaar geword het in die Seun, u beeld, sodat ons U ook mag ken. Vorm ons al hoe meer na u beeld, sodat ons ook u beeld vir die wêreld mag wees.