Gedagte vir die dag | Woensdag 20 Januarie 2021

 

Psalm 51:12: “Skep vir my ‘n rein hart, o God, vernuwe my gees en maak my standvastig.”

Die jaar 2021 is nou alreeds ’n paar dae oud. ’n Nuwe jaar gaan altyd gepaard met veel meer as klappers en vonkelwyn, daar is ook nuwejaars-voornemens.  Ons ken dit almal so goed – jaar na jaar is dit dieselfde storie.  Ons maak ’n klomp voornemens wat deur die meeste van ons voor die einde van Januarie verbreek word.

Maar wat is ’n voorneme presies en hoekom maak ons dit? Hoe kan dit baie bepalend wees vir ons lewenskoers? Ons wil die week tydens ons dagstukkies ’n bietjie meer aandag gee aan voornemens, soos ook gerugsteun word deur sekere teksgedeeltes uit die Bybel.

Kom ons vra eers die vraag: Wat is ’n voorneme? Dit is vorentoe dink, dit is die hoop om te verbeter, om meer te doen, meer te kry, minder te eet, minder te weeg . . .

Dit kom alles neer op bepaalde besluite wat ek neem oor myself en oor my omgewing. Dit is regstellende aksie in praktyk. Dit is veranderingsbestuur van my en my direkte omgewing. Dit raak alle aspekte van my lewe en my menswees. Dit raak ook my geestelike dimensie, my voornemens en besluite, of ondernemings om in die jaar wat voorlê nader aan God te leef.  Daarom raak dit my hart, die Bybelse term vir die bron van my denke en my emosies.

Dawid het ook ’n baie spesiale voorneme gehad in ’n nuwe seisoen van sy lewe, na sy aaklige misstappe met Batseba. En sy besluit, of voorneme was ’n hartsverandering!  Hy het besef dat met die oog op sy toekoms, moet sy hart, sy manier van dink, oordeel en gevoelens radikaal verander.  Dawid het ook besef dat so ’n voorneme, of ’n besluit, of versugting nie maklik is nie, en dat hy dit nie in sy eie krag kan deurvoer nie.  Dit is groter as hyself en sy eie vermoëns.  Dus bid hy daarom die volgende gebed: “Skep vir my ’n rein hart O God, en vernuwe my Gees”.  Hartsverandering is Gods-werk en voornemens kan meeste van die tyd nie in ons eie krag deurgevoer word nie.  Die krag en vermoëns moet vanaf die Here afgepleit word wat ons in staat kan stel om dit te doen.

Gebed:

O Here, skep vir my ’n rein hart.  Skep vir my ’n vaste gees, maak my standvastig. Dit is my voorneme vir hierdie jaar. Dit is my gebed omdat ek besef ek is alleen nie daartoe in staat nie. Amen.